Die Speaker van die Drakenstein- munisipale raad het vandeesweek bevestig dat ‘n ondersoek begin is teen Ruth Arnolds, ‘n DA-raadslid van wyk 7 in Wellington, wat glo munisipale verordeninge oortree het toe sy en ander DA-lede in ‘n oop veld in Van Wyksvlei gate gegrou en oop vure gemaak het as deel van ‘n voedingsprojek in haar wyk.

Die klagte teen Arnolds is deur die GOOD-party by die Speaker en die munisipaliteit se afdeling vir openbare veiligheid aanhangig gemaak, waarin die party onder meer sê raadslede moet ‘n voorbeeld stel wat plaaslike munisipale wetgewing betref.

Ruth Arnolds (links) en gemeenskapslede het glo Saterdag 15 Maart potjiekos op ‘n oop stuk munisipale grond in Van Wyksvlei gemaak. Foto: GOOD-party

Keagen Gertse, die GOOD-party se hoofsweep in Drakenstein, het in ‘n verklaring gesê die beweerde oortredings het op Saterdag 15 Maart op ‘n oop veld in Dr. Abduraghman-weg plaasgevind.

Volgens hom was Arnolds en ander DA-lede glo besig om potjiekos vir die gemeenskap te berei.

“Hoewel hul bedoelings goed was, glo GOOD dit is belangrik dat openbare verteenwoordigers te alle tye die munisipaliteit se verordeninge moet nakom.

“Nie net het hulle onnodige skade aan die fasiliteite veroorsaak deur groot gate in die grond te grawe om as tydelike vuurputte te dien nie, maar oop vlamme in ‘n openbare park hou ook ‘n ernstige veiligheidsrisiko in.

“Die verordening verbied enige uitgrawings, skade of ontsiering van fasiliteite, en dit verbied ook mense om kos of alkoholiese drankies na ‘n openbare fasiliteit soos hierdie te bring.

“Die munisipaliteit beskik oor ander fasiliteite met braaigeriewe wat vir hierdie doeleindes gebruik kon word,” het Gertse gesê.

“Sy behoort te weet dat haar optrede ook dié van die gemeenskap bepaal.

“As raadslede bereid is om munisipale reëls te oortree, hoe kan Drakenstein dan van sy inwoners verwag om dit na te kom?”

Hy het geëis dat Arnolds ondersoek word vir die oortreding van die openbaregeriewe- verordening nr. 8 van 2007.

Arnolds het intussen op Facebook na Gertse teruggekap.

Volgens haar vind daar baie bendegeweld op dié veld plaas.

“Daai parkie waarvan jy praat, is ‘n battle field vir die gangsters en ons as gemeenskap gaan dit oorvat.

“Nie jy en jou GOOD-party doen iets nie. Ons gaan nog die potte laat prut daar en die gemeenskap gaan nog elke naweek daar uitkamp – watch me.

“Hoekom kom join jy nie? Jy maak lawaai wat daar nie is nie.

“Julle GOOD-party se tyd is verby. Doen iets vir die gemeenskap; jy is soos ‘n afkop-hoender. Nee man, dien jou gemeenskap, meneer,” het Arnolds se kommentaar op Facebook gelui.

Koos le Loux, die raad se Speaker, het by navraag gesê “die ondersoek teen die raadslid is aan die gang en sy is die geleentheid gegun om op die aantygings te reageer”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article