Skoolbeheerliggame het geen reg om skole toe te maak sonder die toestemming van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) nie. Dit word as onwettig beskou.
So sê Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder van die departement, nadat die beheerligamme van vyf skole in die Paarl blykbaar probeer druk dat dié skole (Dalweide Primêr, William Lloyd Primêr, Magnolia Primêr, Charleston Hill Sekondêr en Paulus Joubert Sekondêr) hul deure vir tyd en wyl moet sluit.
Die Burger het Woensdag (17 Junie) berig dat die vyf skole se beheerliggaame Maandag (15 Junie) tydens ‘n vergadering besluit het dat hulle die bestuur van die skole gaan vra om nie te heropen nie.
Volgens ‘n woorvoerder van die groep, Henry Clayton, vrees leerders en onderwysers vir hul lewens tydens die Covid-19-pandemie wat steeds woed.
By navraag het Hammond gesê hulle is bewus van die gesamentlike brief van die beheerliggame en is tans in die proses om daarop terugvoering te lewer.
“Ons herhaal dat dit nie binne die skoolbeheerliggaam se mandaat val om ‘n skool te sluit nie, en dat om ‘n skool te sluit sonder toestemming van die hoof van departement ‘n onwettige aksie sou wees. Die departement sal die saak egter met die betrokkenes opneem,” voeg Hammond by.
Skoolhoof Ivor Collins, van Paulus Joubert Sekondêr, sê dat sy skool tans oop is en dat 103 vanuit die 172 matrikulante klas bywoon. Hy beklemtoon dat afwesigheid probleme skep en dat dit aangespreek moet word.
In verband met die bekommernisse van die skoolbeheerliggame laat weet Collins dat hy nie bewus is daarvan dat sy skool wil sluit nie.
“Graad 12-leerders woon skool by, alhoewel ‘n groot aantal leerders afwesig bly. Die skool prober alles in sy vermoë om leerders aan te moedig om skool by te woon.”