Die Wellington-nagskuiling in Hoofwegstraat is weer onder die vergrootglas nadat die Drakenstein-munisipaliteit na bewering 18 haweloses die trekpas gegee het, maar die uitsetting ná aansienlike kapsie teruggetrek het.
Hierdie getal is deur die munisipaliteit bevestig.
Mandie Erasmus, die stigter van Heart, ’n organisasie sonder winsoogmerk en wat haweloses in die Drakenstein-vallei bystaan, was gekant teen dié beplande uitsetting en het intussen haar stem dik gemaak oor die munisipaliteit se optrede.
Twee ander bronne – ’n hawelose wat deur die besluit geraak is en ’n gemeenskapsaktivis in Wellington – het die bostaande inligting ook bevestig.
Erasmus, asook die twee ander bronne, vertel dat die Drakenstein-munisipaliteit van plan was om dié 18 haweloses uit te sit weens druk uit die Wellington-gemeenskap om plek te maak vir die huidige haweloses in Wellington se strate.
Omdat daar nie plek in die nagskuiling was nie, het die munisipaliteit besluit om die 18 haweloses wat nie uit die Drakenstein kom nie, uit te sit.
Die bronne beweer dat die munisipaliteit druk ontvang het van Wellingtonners om die haweloses – hoofsaaklik in die sakekern van die dorp – te verwyder en ook onder druk was om ’n “vinnige oplossing” hiervoor te vind.
Erasmus en die ander twee bronne sê ’n deel van hul frustrasie oor die munisipaliteit se besluit is omdat die haweloses in Wellington se strate nie in die nagskuiling wil woon nie.
“Hulle wil nie gerehabiliteer word en hulself onderdanig maak aan die reëls van die nagskuiling nie,” sê Erasmus.
Volgens haar ontneem die munisipaliteit dus die kans van 18 haweloses wat “probeer om hul lewe bymekaar te kry”.
Die Drakenstein-munisipaliteit ontken die beweringe en sê hy kan bevestig dat “geen haweloses by die Wellington-nagskuiling uitgesit is nie”.
“Dié stelling is van alle waarheid ontbloot,” sê Eda Barnard, die munisipaliteit se waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste.
“Die munisipaliteit se gemeenskapsontwikkelingsafdeling het navraag gedoen oor die aantal mense wat in die skuiling woon en ook oor die aantal mense wat nie uit Drakenstein kom nie.
“Agtien van die mense wat tans in die skuiling woon, kom nie uit die Drakenstein nie, maar uit plekke soos Kaapstad, Stellenbosch, Touwsrivier, Ceres, Bredasdorp, Pietermaritzburg, Oos-Londen en die Oos-Kaap sowel as Zimbabwe.”
Erasmus en die twee ander bronne vertel dat die munisipaliteit die 18 haweloses wat nie uit die Drakenstein kom nie, op 9 Oktober gewaarsku is dat hulle die volgende dag, op 10 Oktober, moes uittrek.
Nadat plaaslike belanghebbendes, onder wie Erasmus, kapsie aangeteken het, het die munisipaliteit hierdie datum na die afgelope Maandag (14 Oktober) uitgestel, word daar beweer.
“Die [Drakenstein]-munisipaliteit back track noudat hulle teenstand ontvang het,” volgens een van die anonieme bronne.
Volgens Erasmus het die Drakenstein-munisipaliteit nie verwag dat hy “soveel teenstand” sou ontvang met hierdie besluit nie.
Dit is toe, beweer Erasus, wat die staatsinstelling besluit het om die uitsetting as geheel terug te trek.
Die ander anonieme bron, ’n hawelose wat self in die Wellington-nagskuiling woon, voer aan dat hy en die meeste van die 17 ander haweloses wat aanvanklik uitgesit is, weer op straat sal beland omdat hulle nie na hul families kan terugkeer nie.
Network for Christ, wat in Augustus 2022 deur die munisipaliteit as bestuurder van die nagskuiling aangestel is, het nie op Paarl Post se navraag oor die aangeleentheid gereageer nie.