Inwoners van Hermon en sommige omliggende gebiede wat deel vorm van die Haaskraal-waternetwerk kan van Maandag volgende week (15 September) to Saterdag (20 September) onderbrekings in hul watertoevoer verwag vanweë instandhoudingswerk wat deur die Stad Kaapstad by die Voëlvlei-waterbehandelingswerke gedoen gaan word.

Die Drakenstein-munisipaliteit het in ‘n verklaring gesê die water sal vir gedeeltes van die dag afgeskakel word en ’n beperkte toevoer sal snags beskikbaar wees.

“Die munisipaliteit sal gedurende die dag watertenkwaens in Hermon ontplooi om inwoners te ondersteun.

“Boere kan tenkwaens vir huishoudelike gebruik by ons Wellington-brandweerstasie vul,” lui die verklaring.

Die munisipaliteit het benadruk dat die Paarl- en Wellington-dorpsgebiede nie deur hierdie onderbreking geraak sal word nie.

“Ons bedank u vir u samewerking en ondersteuning terwyl kritieke infrastruktuur in stand gehou word om ons gemeenskappe beter te bedien,” sê die munisipaliteit.

Die munisipale brand- en reddingsdienste kan telefonies by 021 872 2323 bereik word vir enige bystand.

Lees die munisipaliteit se volledige verklaring hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article