In die galery van groot Bybel-figure is daar verskeie wat my só interesseer dat ek nie genoeg oor hul lewe te wete kan kom nie.

Ek wil al die moontlike weet van die mens – die wie, wat, waar, wanneer en waarom. Hulle was almal gewone mense soos ons en het elkeen ook maar ’n swak plekkie in hul morele mondering gehad en wat nie onbenut gelaat is nie. Sommige het wel meer as een vergrypie gehad, en hier en daar was redelik groterige vergrype.

Interessant vir my is dat dit merendeels mans was wat die grootste krake gehad het. Dit was van growwe leuens en hormone wat dikwels op ’n roetemars gegaan en selfs tot moord gelei het.

Eienaardig is dat hulle nie uit hul dwalinge geleer het nie.

Interessant is dat al die vroue wat prominensie in die Bybel geniet van heelwat stewiger stoffasie was as die manlike helde. Hulle was nie net uitsonderlik slim nie, maar jonk en mooi ook, en het groot dade tot voordeel van die Joodse volk gedoen en só die Bybelse geskiedenis ’n positiewe draai gegee. Let wel – dit was sonder om skaamteloos hul lywe te verkoop en oral halfkaal te poseer en seker te maak dat die hele wêreld van al hul bed-eskapades weet.

Vandag se sogenaamde geëmansipeerde vrou kan baie by hulle leer; waardevolle goed wat vir hulle baie nuttig kan wees slegs deur hul vrouwees te omhels, te koester en dus te geniet. Is dit dan nie waarvoor ons lewe nie? Hulle kan steeds suksesvol wees in beroepe wat nie net vir die manswêreld gereserveer is nie.

Sonder om opstokers en afkrakers te wees, kan hulle gerespekteerde rolmodelle vir die verwarde jeug van vandag wees.

Tussen die manlike grotes is Salomo die een wat my met meer vrae as antwoorde laat. Ek verstaan nie dat hy, wat so ’n perfekte wegspring in goedheid en guns gehad het, oor uitsonderlike intellektuele vermoëns beskik en bonatuurlike wysheid present gekry het, later die lewe so verkeerd-om begin lewe het nie? Hy is selfs met eer en rykdom bekroon soos niemand in sy leeftyd nie.

Volgens die Bybel sal daar onder al die konings nooit sy gelyke in wysheid wees nie. In die opgetekende demonstrasies van sy wysheid en beskrywings van uitsonderlike skeppende vermoëns kan dit nie anders dat die moderne wêreld se konings sleg afsteek teenoor hom nie. Hulle kom selfs sleg tweede wanneer hul gesluip van bed tot bed met sy slaapgewoontes vergelyk word. Dít is een van die vraagtekens vir my – is dit sy wysheid wat hom dit so laat doen het, of het hy die wysheid nodig gehad om dit te laat werk? Was sy wysheidspreuke nie bedoel om as rigtingwyser vir die mens te dien nie; ’n morele kompas wat gesonde gesinne en dus ’n gesonde gemeenskap verseker sodat ’n goeie regering ’n natuurlike uitvloeisel daarvan is nie?

Hy het ooreenkomste aangegaan met die heidense volke van die groot ryk wat sy pa, Dawid, verower het.

Sy veertig jaar lange regeringstyd was dus vredevol en die ooreenkomste was deels die rede vir sy 700 vroue en 300 byvroue. Hulle is dus getrou vir vredesonthalwe? Hy het ook presies geweet van die nasies se afgodediens en die gruwels wat hulle bedryf het, soos die kinderoffers aan hul gode.

Net so het diesulkes geweet van die mooi en goeie in Salomo se koninkryk, maar daarvan skuur niks op hulle af nie, maar hul afgodediens begin plak plek-plek op hom.

Raai waar het dit begin? By sy bedmaats – ekstra vrouens in ’n man se lewe stel ekstra eise, wat dikwels al strawwer word. So begin Salomo hoë morele bogrond verloor. Stadig maar seker begin sy lewe donker kleure aanneem, en, soos altyd, het besluite in donker gedagtes altyd verkeerde uitkomste. Hy vervreem sy onderdane weens die hoë belastings wat hy hef om sy uitspattige lewenstyl te finansier asook vir die enorme bouprojekte wat hy aangepak het, te betaal.

Dit maak dus nie saak of dit ’n groot of ’n klein koninkrykie is nie. Wanneer vreemde vrouens deel daarvan is deur die “koning” se bed te deel, word daar nie meer reguit gedink nie en gewoonlik sluip geld ook in, en dan loop dinge skeef. Is daar sekere parallelle te trek tussen die magtige Salomo se kaperjolle en dié van baie van die wêreld se grotes, en selfs Mzansi se bekendes en hul koninkryke?

Lyk so, maar die vraag waarop ek nie ’n antwoord kry nie, spruit uit die bekende Salomo-spreuk: “Wat gewees het, sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”

Is dit ’n herhaling van die geskiedenis? Het ander “koninkryke” ook hul kinders met hamers doodgeslaan, vergiftigde kos gevoer, hul ma’s verkrag en vermoor en kindertjies vir moetie opgesny?

En is hul staatskas ook deur onbevoegde werknemers leeg gesteel? Het hulle ook miljoene agtergeblewenes gehad wat vetter as vet en skurke in hoë poste was?

You need to be Logged In to leave a comment.