Die afrigter van die Paarl-Oos-krieketklub, Zynodean Fredericks (links), oorhandig hier die trofee vir speler van die wedstryd aan Tyrese Hendricks. Foto: Fenito Mehl


Die krieketspan van Paarl-Oos het Saterdag (12 November) maklik met sy bure, die Wellington-krieketklub, afgereken.

Paarl-Oos het die loot gewen en besluit om te kolf in weersomstandighede wat gunstig vir die boulers was.

Tyrese Hendricks het egter ander planne gehad en het ’n foutlose 100-tal aangeteken. Hendricks het só beïndruk met hoe kalm hy sy beurt gespeel het, dat selfs die Protea- en voormalige Paarl-Oos-speler Keegan Petersen, wat die wedstryd bygewoon het, nie genoeg uitgepraat kon raak oor dié kolfsensasie van Paarl-Oos nie. Hendricks het veral die oog gevang met sy uitstekende dekhoue, wat hy met gemak grens toe gestuur het.

Jevano Baron het ook met sy lustige houe ’n lopie per bal 70 aangeteken en sodoende gehelp dat Paarl-Oos altesaam 257 lopies in sy toegelate 50 beurte aanteken. Roger Cupido, met 28 lopies, en Deano Esau, met 21 lopies, het ook ’n waardevolle bydrae gelewer.

Ná ete was dit die manne van Wellington se beurt om voor die penne stelling in te neem. Dinge het egter rampspoedig begin toe Jevano Baron (3/23) vroeg toeslaan, en Wellington kon net nie herstel nie. Baron is goed bygestaan der Byron Fortuin (2/28).

Die manne van Wellington is stert tussen die bene huis toe gestuur nadat hulle vir ’n skamele 96 lopies uitgeboender is. Hendricks is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy briljante 100-tal.

Paarl-Oos beklee tans die eerste plek in die Bolandse Premierliga-kompetisie ná die eerste helfte van die seisoen.

Hierdie naweek begin die T20-kompetisie wanneer die eerste en tweede spanne na Stellenbosch reis vir hul wedstryde teen die Van der Stel-krieketklub.

You need to be Logged In to leave a comment.