Jong musikante het onlangs handjie bygesit by ’n Wheelie-dag by Rusoord, ’n tehuis vir bejaardes in die Paarl. Hulle het inwoners met hul mooi musiek vermaak.


Vrywilligers uit die omgewing bederf die inwoners van die tehuis Rusoord elke Vrydag met ’n uitstappie in hul rolstoele, bekend as Wheelies – maar dan sluip die winter nader en knip hierdie kosbare uitstappies vir ’n seisoen of twee kort.

Daarom het ’n groep leerders wat tuis onderrig ontvang en ook gereeld ’n handjie by Wheelies bysit, die bejaardes die afgelope Vrydag (30 September) by dié tehuis in die Paarl vermaak.

Deelnemers tussen drie en 17 jaar het gedans en viool, kitaar, ukulele en klavier gespeel en ook gedigte voorgedra. Die ster van die oggend was sonder twyfel die driejarige Lüia Venter, wat ’n verwerking van “Twinkle Twinkle Little Star” op haar viool gespeel het, onder klavierbegeleiding van die dertienjarige Sebastian Sonnekus. Lüia het almal se harte gesteel met haar prinsesrok terwyl sy met haar piepklein viooltjie op ’n stoel gestaan het.

Die kinders het verskeie musiekgenres gedek – van klassiek, saamsing-gunstelinge en die immergewilde “Amazing Grace” – laasgenoemde is op viool vertolk deur ’n voornemende musiekstudent, Zoë Serdyn, en het die ouer garde in vervoering gehad.

Die Wheelies-span het ook die inwoners met heerlike eetgoed bederf –saam met hul koffie en tee wat deur die kombuispersoneel bedien is. Dit was gewis ’n oggend om te onthou!


. Bejaarde-week breek eersdaags in die eerste week van Oktober aan. Wheelies se nuwe seisoen begin ook weer op Vrydag 4 Oktober. Raak betrokke by hierdie inisiatief en maak ’n verskil in die lewe van hierdie groep bejaardes. Kontak Ina Troost by 072 441 4211 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.