Die amptelike opening van die Wellington-nagskuiling is ’n groot triomf vir dié dorp en sy mense.
Hoewel daar nog baie vraagstukke oor die volhoubare bestuur daarvan heers, is daar talle mense wat verlig is – dat die einde in sig is.
Die burgemeester, Conrad Poole, was met die opening van die skuiling baie trots om te sê Drakenstein-munisipaliteit (DM) het alleen die droom bewaarheid.
Tog is daar baie betrokke rolspelers in Wellington wat nie met dié stelling saamstem nie. Daar is geen tekort aan verskillende weergawes oor die bou en ontstaan van die nagskuiling nie.
Nietemin moet die fokus op die hart van die saak lê – die herintegrasie van haweloses om funksionele inwoners van Wellington te word.
Konstruktiewe kritiek kan wel oor die eksklusiewe aard van die munisipaliteit se bekendstelling daarvan gelewer word: In plaas daarvan dat ’n klein gekose groepie dié triomf saam kon vier, sou dit wyser wees as die hele dorp saam feesvier.
Hoekom nie ’n naweek daarvan maak nie? ’n Saterdag vol pret, met stalletjies, kos en vermaak – alles wat sou dien as geldinsamelings om die pad van herstel vir dié 48 begunstigdes van die nagskuiling ’n voorsprong te gee. En so ook ’n geleentheid vir versoening, trots oor wat vermag is, en die bou van volhoubare verhoudings.

