Een van die voertuie wat in die botsing betrokke was. Die motor het op die perseel van Allandale Korrektiewe Dienste beland.


Twee gedeeltes van Allandale Korrektiewe Dienste se heining is die afgelope naweek morsaf gery toe twee voertuie in ’n botsing betrokke was.

Volgens ’n anonieme bron, wat op die toneel was, is dit twee vriende wat in die botsing betrokke was op pad na ’n ander ongelukstoneel toe.

Die twee bestuurders van die betrokke BMW-motors – vriende van mekaar – het by ’n geleentheid in Orleans-park gekuier.

Een van die manne het ’n oproep gekry dat sy broer in ’n ongeluk betrokke was en hulle het hul na die toneel gehaas. Dit is nie duidelik waar die ander ongeluk gebeur het nie.

Die twee vriende het hulle van Orleans-park af gehaas om te gaan help en op die Sonstraalpad gery.

“Op pad na die ander ongeluk het hulle ’n ander voertuig verbygesteek terwyl verkeer van voor af aangekom het. Hulle was genoodsaak om uit te swaai, en dit het tot die botsing gelei.

“Een van die voertuie het deur Allandale se heining gebars en op die erf van Korrektiewe Dienste tot stilstand gekom.”

Albei voertuie is op die oog af onherstelbaar beskadig. Niemand is ernstig beseer nie.

Die heining wat platgery is, is nog nie vervang nie – dit is nog net met polisielint afgesper.

Wat kommerwekkend is, is dat geen sekuriteitswag aan diens is om te verhoed dat iemand die perseel onwettig betree nie.

Navrae is aan Zamikhaya Ncamazana, die hoof van die Allandale-gevangenis, gerig om te vra hoekom ’n veiligheidswag nie aan diens is nie en wanneer dit reggemaak sal word. Geen terugvoer is egter teen druktyd ontvang nie.

  • Two sections of Allandale Correctional Services’ fence were run down over the weekend when two friends were involved in an accident on Sonstraal Road. They were on their way to another accident scene when they were also involved in an accident.

You need to be Logged In to leave a comment.