As kleuter het Haybry Johnson gereeld saam met haar pa en broer in hul duiwe-hok gewerk en vandag spog sy en haar duif met die titel van wedvlug-kampioen.
Die 13-jarige Haybry, ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Paulus Joubert, vertel dat sy gereeld haar pa, Burnett, en haar broer, Curtwill, wat vir meer as 10 jaar reeds duiwe vlieg, gehelp het. Soos sy ouer geword het, het sy begin help om die duiwe se ringnommers neer te skryf, asook gesorg dat die duiwe se waterbottels skoon en vol is en so ook hul kosbakke.
Verlede jaar het Haybry egter besluit dat sy self duiwe wil begin vlieg.
Omdat Burnett en Curtwill ook met duiwe boer, kon Haybry een van dié duiwe kies as haar eerste duif.
“Ek het vinnig betrokke geraak by die sport, want waar ook al my pa en broer duiwe gevlieg het, het hulle my saamgeneem om te gaan kyk en so het ek meer geleer,” vertel sy.
Sy sê dit is vir haar baie interessant om te sien dat wanneer ’n duif op ’n sekere plek vrygelaat word, dit presies weet hoe om terug huis toe te vlieg.
“Ek het vir Rose gekies as my duif. Toe ek die eerste keer my duif laat vlieg het, het ek gedog sy gaan verdwaal en nie haar pad terug huis toe kry nie, maar sy het nie.”
Haybry vertel dat sy juis vir Rose gekies het omdat sy ’n Cheq Cock-duif is met kenmerkende kleure wat haar bo die ander duiwe laat uitstaan.
Haybry vertel dat hul oefenprogram met die duiwe insluit om hulle Saterdae van Touwsrivier terug Paarl toe te laat vlieg, ’n afstand van sowat 120 km. Dan ook twee keer per week van Somerset-Wes.
Rose het onlangs eerste plek losgevlieg in die Leeu Gamka-kompetisie, waar sy 360 km afgelê het in drie ure en kort op haar hakke was Tilly, Haybry se ander duif wat tweede plek in dieselfde wedvlug verower het.
“Ek was baie opgewonde en bly toe Rose wen en ek is baie trots op myself.”
Hoewel haar duiwe so goed vaar, sê Haybry dat sy duiwe vlieg omdat dit vir haar lekker is en nie om te wen nie, “want niemand kan altyd wen nie”.
Sy sê ook daar is altyd goeie sportmangees en eerlikheid onder wedvlug-deelnemers.
Sy beskryf haarself as ’n stil, spontane meisie wat eendag ná skool onderwys wil studeer.
Oor haar rolmodelle sê Haybry: “My ouers is my rolmodelle, want hulle leer my om nooit op te gee op my drome nie.”
Sy sê dat sy ook graag die jeug wil leer hoe spesiaal en interessant die duiwe-sport is en hoe om duiwe te versorg.