Talle sakeondernemings in Paarl se middedorp kla oor haweloses wat op hul stoepe plak.Foto: Rasaad Adams


’n Onlangse opname deur die Drakenstein-munisipaliteit het getoon dat bykans 500 haweloses op dié munisipaliteit se strate rondswerf, met die meeste wat waarskynlik in die Paarl aangetref word.

Paarl Post het na die munisipaliteit uitgereik te midde van talle ondernemings in Paarl-Sentraal wat kla oor haweloses wat met hul bagasie voor sakeondernemings se persele plak, die stoepe bemors en selfs op die stoepe urineer.

Die munisipaliteit sê hy bewus is van altesaam 496 hawelose individue in die groter Drakenstein-vallei.

Hy het egter nie gespesifiseer hoeveel in elk van die munisipale gebiede –naamlik Wellington, die Paarl, Gouda, Mbekweni, Simondium en Saron – aangetref word nie.

Volgens verskeie ondernemings in die Paarl word hul persele erg geraak weens onder meer haweloses se bagasie wat deur die dag op stoepe agterbly en die reuk van uriene wat in die lug hang.

’n Sakevrou wat ’n gastehuis in die Lemoenkloof-omgewing naby Hoofstraat besit, het op voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê hoewel sy met die haweloses simpatiseer, hou hulle haar kliënte weg.

“Dit is hartseer en dis ’n baie sensitiewe saak. Ons is nie altyd bewus van die omstandighede hoekom mense op straat opeindig nie. Ons het egter al verskeie negatiewe aanlyn resensies van internasionale besoekers gekry oor hul ervaring hier. Ons gastehuis is oorkant ’n park geleë en dit is gedurig ’n oogseer. Die plek is ’n gemors. aan Matrasse en beddegoed hang in al wat ’n boom is. Ons laat nie eens ons kinders toe om naby die park te gaan nie. Soms probeer ons self ’n bietjie skoonmaak, maar ’n mens moet so versigtig wees waaraan jy vat,” sê die sakevrou.

Sy sê een van die ander sakevroue in dieselfde straat kla ook gereeld oor die haweloses wat soms die hele dag voor die perseel deurbring en die stoep bemors.

Sommige ondernemings se eienaars wys die vinger na die munisipaliteit se plaaslike wetstoepassers en sê munisipale wetgewing ten opsigte van die haweloses word nie reg toegepas nie.

Sekere ondernemings sê hulle moes gevolglik private veiligheidswagte aanstel om die haweloses van hul stoepe af te hou. Ander het voorgestel hulle moet sproeiers gebruik wat elke vyf minute vanself aanskakel.

Ook die plakkerskamp onder die Markstraat-brug in die Paarl is vir baie jare al ’n kopseer. Dit is in die hartjie van die Paarl, maar geen poging word aangewend om ’n permanente oplossing hiervoor te vind nie. Plakkers wat op die drumpel van Hugenote-stasie kamp, word ook deur die owerhede ignoreer.

Volgens Gerald Esau, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, is die munisipaliteit reeds besig met ’n nuwe opname vir spesifiek die Paarl te midde van ’n skerp toename in haweloses wat hulle hier kom vestig.

“Dit het onder die munisipaliteit se aandag gekom dat baie haweloses van oor die Wes-Kaap heen by The Haven-nagskuiling in die Paarl opgeneem word en dan binne ’n kwessie van drie maande op straat beland.

“Ons het reeds verskeie gesprekke met dié nagskuiling gevoer vir hierdie haweloses om na hul plekke van herkoms terug te keer en sodoende die toename in haweloosheid in die Drakenstein en gepaardgaande probleme met bedelaars en swerwers te voorkom,” het hy aan Paarl Post gesê.

Volgens Esau is die munisipaliteit in fase twee van sy plan om ’n nuwe nagskuiling in die Paarl op die been te bring, wat spesifiek daarop sal fokus om haweloses met hul families te herenig.

“Dit is belangrik om in ag te neem dat haweloosheid nie ’n misdryf is nie. Ons werk gereeld saam met verskeie belanghebbendes, soos die departement van maatskaplike ontwikkeling en wetstoepassers, om hierdie mense van sakeondernemings se persele af te verwyder en in ’n skuiling te plaas.”

Paarl Post het omstreeks halfsewe Maandagoggend met een van die vroulike haweloses wat voor ’n onderneming in Lady Greystraat slaap, gepraat. Sy het gesê sy wens mense kan die stigma rondom haweloosheid verander.

“Ek het nie gekies om op die straat te kom bly nie. My stiefpa het my uitgesit. Ek is van Chicago hier in die Paarl. Ek het ’n twaalfjarige kind wat nou deur my familie grootgemaak word.

“Dit is belangrik om te noem dat ons so te sê hierdie persele ‘oppas’ en teen inbrake beskerm deur voor die deur te slaap. Ons sorg dat ons soggens verdwyn voordat hulle oopmaak,” sê sy.

. Much to the frustration of residents, homelessness continues to worsen, with almost 500 homeless people counted in Paarl and Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.