Die bagasie van ’n groep haweloses was Maandag (9 September) nog sigbaar in die parkeerterrein oorkant die Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantoor in die Paarl. Die haweloses het die parkeerterrein beset nadat die munisipaliteit se ooreenkoms met Pioneer Foods vir die verhuring van die parkeergebied tot ’n einde gekom het. Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek by navraag gesê die rede hoekom ’n groep haweloses die munisipale parkeerterrein op die munisipaliteit se voorstoep in die Paarl beset het, is omdat sy ooreenkoms vir die verhuring van die parkeergebied met die naburige Pioneer Foods ten einde gekom het.

Paarl Post het die munisipaliteit geraadpleeg te midde van ’n aantal klagtes van lesers oor die stand van die parkeerterrein en hoe die omliggende gebiede bemors word.

Sommige lesers het hul ongelukkigheid uitgespreek oor hoekom daar nie daadwerklik opgetree word nie aangesien dit op die voorstoep van die munisipale hoofkantoor is en ’n sleutelroete wat deur baie gebruik word.

Louis Pienaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het egter ontken dat die parkeerterrein beset is.

Hy het verduidelik dat die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling daagliks verskillende verordeninge wat haweloses betref, oor die munisipale gebied heen toepas.

“Die vorige verhuringskontrak van die parkeerterrein by Pioneer Foods het tot ’n einde gekom en is nie hernu nie.

“Die munisipaliteit is tans in gesprek met ander belanghebbendes om dié parkeergebied te huur.

“As deel van ons daaglikse take verwyder ons ook onwettige mense en reik boetes uit waar nodig. Die betrokke gebiede word daagliks deur ons vinnige reaksiespan gediens,” het hy gesê.

Die groep haweloses se bagasie was egter die afgelope Maandag (9 September) steeds in die parkeergebied sigbaar, nadat hulle vermoedelik daardie oggend deur wetstoepassers “verwyder” is.

Dit is in dié stadium nie duidelik hoekom die huurooreenkoms met Pioneer Foods geëindig het en wie dit gaan oorneem nie.

Oor die vullis rondom die parkeerterrein en algemene afvalbestuur in die middedorp het Pienaar gesê die munisipaliteit vind dikwels dat baie ondernemings hul afval op die sypaadjies uitsit nadat werkers die gebiede reeds skoongemaak het.

“Die munisipaliteit se vaste- afval- en wetstoepassings-afdelings werk tans aan ’n aksieplan om dié kwessie aan te pak en om hierdie ondernemings aanspreeklik te hou vir hul afval en die storting daarvan.”

Hy het benadruk dat die munisipaliteit beplan om in die 2024-’25-boekjaar altesaam 492 nuwe werksgeleenthede as deel van sy uitgebreide program vir openbare werke (EPWP) te skep.

“Altesaam 185 EPWP-werksgeleenthede sal in die munisipaliteit se vaste-afval-afdeling geskep word vir informele nedersettings, vinnige-reaksie-spanne, masjienoperateurs en die skoonmaak van hoofroetes en die sentrale sakekern.

“Dan sal 102 EPWP-werkers onder die munisipaliteit se parke- en begraafplase-afdelings val, en 45 by die stormwaterdienste-afdelings,” het Pienaar verduidelik.

Intussen het die munisipaliteit 65 rommelstortings-brandpunte en 18 mini-aflaaiplekke, waar onwettige storting gereeld voorkom, geïdentifiseer.

Pienaar het gesê die vaste-afvalbestuur-afdeling het onlangs ’n loodsprojek by vier brandpunte van stapel gestuur, waar toegewyde EPWP-werkers daagliks sal skoonmaak.

Indien suksesvol, sal hierdie benadering uitgebrei word na ander gebiede, tesame met ander nuwe skoonmaak-inisiatiewe.

Volgens Pienaar toon die jongste data dat sowat 259 haweloses op strate oor die hele munisipaliteit heen opgemerk is.

“Ons het ook met kommer verneem dat haweloses van Kaapstad na die Paarlse skuiling gebring word. Sowat 30 haweloses is in Junie alleen na die nagskuiling gestuur, wat ons haweloosheidgetalle in Drakenstein opstoot.”

Hy het verder gesê die munisipaliteit is steeds besig met die derde fase van die ontwikkeling van ’n nuwe oornagskuiling in die Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.