Hawelose probleem ruk handuit op Wellington

Die tientalle werklose sluipslapers wat elke nag die middedorp van Wellington met hul bondels komberse en matrasse van karton laat blom, is besig om vir die soveelste keer die eienaars van sake-ondernemings in die middedorp rooiwarm van frustrasie te


Die tientalle werklose sluipslapers wat elke nag die middedorp van Wellington met hul bondels komberse en matrasse van karton laat blom, is besig om vir die soveelste keer die eienaars van sake-ondernemings in die middedorp rooiwarm van frustrasie te maak.

“Waarom,” wou ’n gefrustreerde sakeman met ’n besigheid in Kerkstraat naby Victoria Park die afgelope week weet, “sien jy nooit so ’n gemors in die omgewing van plekke soos die Paarlse Mall nie?”

Volgens hom moet klante wat vroeg in die oggend by hom wil kom sake doen, hul weg voel-voel tussen slapende mense wat oral op die sypaadjie voor sy onderneming lê.

’n Bekende sakevrou vertel dat sy vroeg-oggend, toe sy haar plek kom oopsluit het, deur een van die sluipslapers voorgekeer is. Hy wou broodgeld hê. Toe sy beduie dat sy nie geld by haar het nie, het hy eers gedreig om haar motor se wiele af te blaas en toe skielik op haar afgestorm met ’n gebreekte bottelnek in sy hand.

Attie Barnard, ’n sakeman wat al baie lank probeer om die probleem van sluipslapers in die middedorp opgelos te kry, het oor die jare ’n deeglike studie van die probleem gedoen. Hy het bevind dat die aantal sluipslapers rondom Victoria Park besig is om dramaties toe te neem; op die stoep van ’n leë gebou in Fonteinstraat wat tans gerestoureer word, het hy onlangs 29 mense getel wat daar lê en slaap het.

“Die tragiese is dat baie van die sluipslapers hul eie blyplekke het maar dat hulle, weens hul drank- en dwelmprobleme, deur hul huismense uitgeskop word. Dit help ook nie om duur planne te maak om nagskuilings vir hierdie mense te bou nie, hulle wil nie daar bly nie. Eerstens omdat daar spanning tussen die verskillende groepe sluipslapers is – dis die rede waarom jy ’n goot groep in dié omgewing van Victoria Park kry en ’n ewe groot groep wat hulle in die omgewing van die Wellingtonse polisiestasie tuisgemaak het.”

Volgens Attie doen die oorgrote meerderheid van die sluipslapers ook diens as die oë en ore vir Wellington se smokkelbase en bendeleiers. Hulle word met drank en verdowingsmiddels vir hul dienste vergoed – dit sal moeilik wees om dié soort werk te verrig as jy snags in ’n nagskuiling sit.

Dis ironies dat hierdie samedromming van haweloses veral rondom Victoria Park voorkom. Die park is oor die afgelope paar jaar met groot moeite deur Wellingtonners van totale ondergang gered toe spanne inwoners, onder leiding van Amanda Kreitzer begin het om die park tot sy eertydse glorie te herstel deur roosbome en struike aan te plant en om grasperke en verbrokkelde paadjies te herstel. Daar is selfs daarin geslaag om ’n groot straatmark wat by die hekke van die park opgeskiet het, suksesvol na ’n ander perseel verskuif te kry. Die amptelike opening van die herstelde Victoria Park word telkens uitgestel – onder meer omdat dit dwaas sal wees om die pragtige oop ruimte in die middedorp se hekke oop te gooi met soveel haweloses rondom die park.

Oor die stadsraad se betrokkenheid by die probleem van sluipslapers en haweloses in Wellington is daar groot ongelukkigheid onder die inwoners wat daadwerklik probeer om die probleem aan te spreek. Amptenare word daarvan beskuldig dat hulle voete sleep om sekere maatreëls toe te pas, dat hulle daarin geslaag het om jaar na jaar agter leë beloftes te skuil en dat elke versoek wat gereeld op forumvergaderings geopper word, met dieselfde beloftes dat iets aan die saak gedoen sal word, beantwoord word.

“’n Mens voel later of ons versoeke keer op keer met dieselfde generiese brief beantwoord word: die saak geniet aandag, daar sal iets aan die saak gedoen word…” het ’n moedelose sakeman onlangs gesê. “Miskien raak dit nou tyd dat ons ’n optog na die middedorp reël en so seker maak dat die betrokke stadsraadslede ons versoeke ontvang.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.