Harold Adams (links), saam met Blanche de la Guerre (Netbal SA se voormalige uitvoerende hoof, middel) en Raymond Mali (voormalige president van Krieket Suid-Afrika, regs) was almal ontvangers van die Steve Tshwete- lewenslange prestasie-toekennings by die Suid-Afrikaanse sporttoekennings se spoggeleentheid op 5 Mei by Sun City in Noord-Wes. Foto: Argief


Harold Adams (58), ’n boorling van Simondium, is ’n naam eg aan Suid-Afrika, maar ook aan die Boland, vir sy bydrae tot atletiek, en die breër sportlandskap in Suid-Afrika, asook internasionaal.

Hy is vanjaar tydens die Suid-Afrikaanse sporttoekennings se spoggeleentheid op 5 Mei by Sun City in Noord-Wes met een van drie Steve Tshwete- lewenslange prestasie-toekennings vereer – ’n gebeurtenis wat vir Adams ’n “groot eer” is, volgens hom.

Adams werk reeds sedert die jare negentig “agter die skerms” waar hy sedertdien die Suid-Afrikaanse atletiekspan se mediese dokter was en na alle byeenkomste saam met hulle gereis het. Dit sluit in, onder meer, minstens 30 Olimpiese Spele’s en vier Statebond­spele’s.

Hy het ook in verskeie internasionale en nasionale liggame gedien, wat insluit die Commonwealth Games Association Medical Commission, asook die South African Institute for Drug-Free Sports.

Tans is hy ook die voorsitter van Boland Atletiek, een van die grootste atletiekklubs in die land.

Ondersteunende personeel het nog nooit só ’n toekenning gekry nie – dit is ’n groot eer vir ons ‘backroom boys’.
Harold Adams

“Ondersteunende personeel het nog nooit só ’n toekenning gekry nie – dit is ’n groot eer vir ons ‘backroom boys’,” het Adams gesê, wat verduidelik het dat diegene wat buite die kollig werk, selde vir hul werk vereer word.

Adams het in die gebied wat bekendstaan as die “Ysblokke” in Simondium grootgeword en was ’n leerder aan Simondium Primêre Skool voordat hy aan Noorder-Paarl Sekondêre Skool gematrikuleer het.

“Tydens laerskool moes ek elke dag tussen vyf en ses kilometer skool toe loop en weer terug.”

Dit was reeds tóé dat Adams se liefde vir sport begin het – iets wat natuurlik vir hom gekom het.

Danksy sy pa, wat ook ’n kranige marathon-atleet was, het hy vinnig in atletiek – veral die 400- en 800 m – by vele Suid-Afrikaanse atletiekkampioen­skaps­byeenkomste – uitgeblink.

Hy het in 1992 by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad as ’n junior dokter gewerk, waarna hy as die amptelike dokter van die Suid-Afrikaanse atletiekspan aangestel is.

Ek is reg oor die wêreld die mens wat die langste as ’n mediese dokter vir ’n sportspan gewerk het, en ook die eerste swart dokter by militêre hospitale.
Harold Adams

“Ek is reg oor die wêreld die mens wat die langste as ’n mediese dokter vir ’n sportspan gewerk het, en ook die eerste swart dokter by militêre hospitale.”

As ’n mediese dokter het Adams ook verskeie belangrike staatsamptenare versorg. “Ek wou nog altyd ’n dokter geword het. Van waar ek kom is van almal verwag om ’n plaasarbeider te word. Dit is ’n edel gevoel [om ’n dokter te wees], en dit is ook hoekom ek nooit in die private sektor gewerk het nie, maar eerder vir die staat.”

Daar is geen keer aan Adams nie, en dié ere-toekenning het nog ’n groter huppel in sy stap verseker.

“Ek het nou eers begin,” het hy laggend aan die Paarl Post gesê.

Daar is groot planne in die pyplyn vir Boland Atletiek met die klub se eie hoë- voldoeningsentrum (high performance centre) met studiegeleenthede vir skoolgaande atlete nadat hulle gematrikuleer het.

Adams was oor die jare ’n gewilde besprekingspunt in die media, veral oor die geslagstoetsskandaal van Caster Semenya, waar hy betrokke was en aangevoer het dat Semenya se testosteroonvlakke te hoog is.

“Die media moet krities wees, [maar] teen die einde was my standpunt [oor Semenya] geregverdig,” het Adams verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.