Hannah van der Merwe van Huis Lizelle op Wellington het die afgelope 31 jaar duisende kinderharte bly gemaak deur poppe wat sy elke dag sit en brei.
Presies hoeveel poppe Hannah in die 31 jaar gebrei het, is volgens haar onmoontlik om presies te bepaal. Sy brei elke dag van haar lewe aan die poppe wat geskenk word aan kinders wat versorg word in hospitale, in kinderhuise en oral waar kinders in nood is en ook aan die Sondagskoolkinders van die verskillende kerke in en om Wellington.
Die oorgrote meerderheid van die poppe wat sy brei is beertjies wat aan seuns en dogters as ’n lekker warm bedmaatjie uitgedeel kan word. Hannah het ook pas met ’n splinternuwe projek vir dogters begin – klein handsakkies vir poppe waarvan sy teen die einde van die jaar minstens 100 gereed wil hê sodat klein dogtertjies ’n uithaler Kersgeskenk vir hul poppe kan gee!