Bronne uit verskeie oorde beweer die Drakenstein-munisipaliteit (DM) het onwettig opgetree toe die informele handelaars wat oor geldige permitte beskik, van Lady Grey-straat in die Paarl na ander dele van die sakekern verskuif is.
Die bronne beweer dat geen regsproses gevolg is om die handelaars met ‘n interdik te verwyder nie.
Die DM weerlê egter hierdie aantyging en sê dat Stephen Korabie, die DM-burgemeester en die dryfveer agter die jongste skuif, wel volgens die wet opgetree het.
“Die DM het sedert verlede jaar verskeie informele handelaars versoek om te hervestig en hulle het tot hierdie versoek ingestem. Diegene met geldige permitte word na meer geskikte handelsruimtes binne die Paarl verskuif en ‘n behoorlik geraadpleegde afbakeningsproses sal plaasvind,” sê Seraj Johaar, die DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.
Tans is slegs vyf informele handelaars in Lady Grey-straat geplaas omdat hul permitte eers oor drie maande – in Julie vanjaar – verval.
Volgens ‘n informele handelaar wat anoniem wil bly, het die DM dit egter duidelik gemaak dat hierdie “oorblywende vyf wel in die toekoms geskuif gaan word”.
Die res van die handelaars (sowat sewe) is geskuif na onder meer Breda- en Waterkantstraat omdat hul permitte om in Lady Grey-straat handel te dryf, nie ná 31 Maart – die afsnydatum vir alle permitte in Lady Grey-straat – hernu is nie.
Volgens die anonieme bron het een informele handelaar vrywillig besluit om sy onderneming na Patriotplein te skuif, wat deur die DM as ‘n handelsplek geoogmerk is.
Niemand is egter by die taxi-aanhoudingsone in die Bergrivier-boulevard geplaas nie – ‘n gebied wat volgens Johaar vir die informele handelaars geoogmerk is omdat dit oor skadunette en toiletgeriewe beskik.
Die jongste verskuiwing is ‘n poging om die sakekern se beeld, wat tans as onveilig en onhigiënies beskou word, te herstel.
“Die DM erken die bydrae deur die informele sektor tot die plaaslike ekonomie en verstaan die belangrikheid daarvan om ‘n waardige en bemagtigende omgewing te voorsien vir deelnemers in hierdie sektor om ekonomies aktief en suksesvol te wees,” het Johaar in ‘n vorige kommunikasie aan die Paarl Post gesê.
“Die DM sal verseker dat handelaars by ander handelspersele om permitte aansoek doen. Permitte sal vir drie maande uitgereik word en slegs vir handelsgebiede wat toegang tot ablusiegeriewe en afvalverwyderingsfasiliteite het,” sê Johaar.
“Een van die hoofredes waarom die DM handelaars uit Lady Greystraat verwyder het – ná klagtes deur inwoners, sake-eienaars en klante – was weens die gebrek aan ablusiegeriewe in die gebied .
“Ons motivering was ook om reg en orde in die gebied te herstel. Ons is vasbeslote om orde in Paarl se sentrale sakedistrik te herstel en die veiligheid van gemeenskapslede wat gereeld die winkels, inrigtings en ander fasiliteite in Lady Grey-straat besoek, te verseker.
“Ons fokus tans op die Lady Grey-straat-gebied wat ons eers wil afhandel, waarna Hoofstraat en Kerkstraat in Wellington sal volg.”
Volgens Johaar is spesifieke tydlyne vir hierdie optrede nog nie bepaal nie.