HAM sê dankie aan donateurs

Huis Andrew Murray (HAM) op Wellington het onlangs hul algemene jaarvergadering en ’n donateursfunksie gehou. Tydens hierdie geleentheid het hulle ook aan hul matriekleerders en sportpresteerders hulde gebring en hul donateurs bedank.


Huis Andrew Murray (HAM) op Wellington het onlangs hul algemene jaarvergadering en ’n donateursfunksie gehou. Tydens hierdie geleentheid het hulle ook aan hul matriekleerders en sportpresteerders hulde gebring en hul donateurs bedank.

Die gaste is deur die kinders in HAM se Sprokiesland Vroeë Kinderontwikkelingsentrum vermaak en ’n DVD wat self deur die leerders gemaak is, is tydens die funksie vertoon. Dit het aan die gaste ’n goeie blik op die wonderlike werk wat hier gedoen word en die hoop wat HAM in kinders se lewens bring, gegee.

Een van die eregaste was Conrad Poole, burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit. In sy toespraak het hy klem gelê op die feit dat die gemeenskap, ten spyte van ’n vreesaanjaende wêreld, die wêreld vir ons kinders moet probeer beter maak omdat hulle die barometer van ons samelewing is. “Hoe beter dit met ons kinders gaan, hoe beter gaan dit met ons gemeenskap,” het hy gesê. Hy het die munisipaliteit se verbintenis tot die ondersteuning van HAM onderstreep en ook hulde gebring aan die goeie werk wat by HAM gedoen word en die moontlikhede wat hulle vir kinders skep.

“As God in beheer is, kan ons nog in wonderwerke glo,” het hy afgesluit.

HAM se matrikulante het van die beheerraad afskeid geneem deurdat elkeen van hul persoonlike pad na hoop getuig het. Elke sportpresteerder is ook vereer. ’n Oorsig van die jaarverslag en finansiële state het die behoefte aan ekstra finansiering by ’n nie-winsgewende instansie soos HAM beklemtoon. Uit dank vir die ruim bydraes van sekere donateurs, het HAM pragtige glastoekennings aan hierdie instansies en individue oorhandig.

“Dit is hierdie mense wat help om die wa deur die drif te kry wanneer HAM se finansiering en subsidies te kort skiet. Hul bydrae tot die sukses by HAM kan nie onderskat word nie,” het ds. Stephan Spies van die beheerraad gesê.

Personeel, beheerraadslede, donateurs, leerders en eregaste kon na afloop van die verrigtinge saamkuier rondom ’n heerlike ete.

Vir meer inligting oor donasies/skenkings, kontak Karen Petersen by 021-873 3834/ 083 234 8875 of karen@andrewmurray.org.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.