Eensklaps is nog ’n plaaslike legendariese inwoner se stem vir ewig stil.

Die geliefde en jare lange haarkapper en saloneienaar, Henriëtta Janse van Rensburg (66) van die Paarl, is oorlede. Haar dood volg sowat ’n jaar nadat sy aan die einde van Mei verlede jaar afgetree het. Almal in die Paarl en omliggende dorpe is bekend met Salon Henriëtta’s, wat sy besit en bedryf het.

Sy het met haar aftrede gesê sy gaan na Langebaan verhuis, waar haar drie seuns vir haar ’n lieflike huis gebou het sodat sy haar aftreejare in gerief kan geniet.

Buiten die feit dat klante na Salon Henriëtta’s vir hul hare-afsprake gekom het, was haar salon ook ’n plek waar mense tuis gevoel het.

Janse van Rensburg het oor die jare baie noue bande met haar kliënte opgebou, en talle was uiteindelik soos familie vir haar. Geslag na geslag het hulle na haar salon vir ’n afspraak gehaas. In ’n onderhoud met Paarl Post verlede jaar het Janse van Rensburg gesê:

“Daar is kliënte wat hul eerste haarsny hier gehad het, en nou kom hul kinders en kleinkinders al hierheen. Kliënte wat oor die jare verhuis het, kom loer ook nou nog in as hulle in die dorp is.”

Met die nuus van Janse van Rensburg se dood op 15 September het medelye van wyd en ver op sosiale media ingestroom. Een inskrywing lui: “ ’n Legendariese vrou wat ons nie sommer sal vergeet nie. [Ons] sal haar baie mis.”

Janse van Rensburg se begrafnis is vanoggend om 10:00 by die NG kerk Drakenstein in Antoinettestraat, Denneburg, in die Paarl.

  • The voice of yet another local legend is silenced forever. The beloved long-time hairdresser and salon owner Henriëtta Janse van Rensburg from Paarl has passed away.

You need to be Logged In to leave a comment.