Werknemers by Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantoor in die Paarl kon Vrydag en Maandag vir ’n groot gedeelte van die dag niks doen nie.

Volgens inligting het die kragopwekker van die burgersentrum kort ná die aanbreek van beurtkrag gaan staan omdat die diesel opgeraak het.

En Maandag weer was hul rekenaarbedienerkamer ook vir ’n groot gedeelte van die dag buite werking en al hul kommunikasiestelsels was dus ook af.

Gerugte het toe vinnig die ronde gedoen dat die munisipaliteit weer ’n slagoffer is van ’n kuberaanval – vroeër vanjaar is die DM se dienste weens ’n kuberaanval vir twee weke omtrent tot stilstand gebring.

Maar volgens die munisipaliteit was hul probleme net tegnies van aard.

In ’n verklaring het die DM gesê dat hulle gereeld en voldoende diesel aanvul vir die hoof-kragopwekker by die Paarl-burgersentrum om tydperke te dek wanneer Eskom beurtkrag instel.

As gevolg van konstante hoë vlakke van beurtkrag wat die laaste paar weke deur Eskom geïmplementeer is, het die kragopwekker se verkoelingstelsel herhaaldelik gebreek, wat die munisipaliteit genoodsaak het om die hele verkoelingstelsel te vervang.

’n Ondersteunings­kragopwekker is bestel om krag aan hul OKT (UPS) en IKT-infrastruktuur te verskaf terwyl die hoofopwekker herstel word.

“Die kragonderbrekings by die burgersentrum hou geensins verband met die kuberaanval wat die munisipaliteit vroeër vanjaar ervaar het nie,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.