Vanjaar se Stasiefees word op 4 en 5 Mei by Kleinevalleij op die Bainskloofpad gehou.
Die fees begin die Vrydagaand met ’n country- opskop. Vir slegs R50 per persoon kan jy saam met die Bootscooters aan die volgende deelneem: lyndans, pare en ook dansoefeninge. Die aand begin 19:00 en beloof om sommer lekker pret te wees.
Saterdagoggend open die hekke 08:00. Kom vroeg om goeie parkeerplek te kry. Toegang kos R50 vir volwassenes en skoolgaande kinders. Vir voorskoolse kinders is dit gratis.
Die maak van die reusemelktert begin 08:50 op perron 7.
Om 10:00 open die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, Conrad Poole, die fees amptelik op perron 1. Op hierdie perron sal musiek heeldag afgewissel word met Jaco Losgelaat, Wynand en Cheree, Adagio en die gewilde Refentse wat gaan optree.
In die buite-arena (perronne 8 en 9) is daar heerlike en veilige kindervermaak, soos die mallemeule, gewilde ponieritte, pretpark-treintjies en kompetisies vir die kinders, en meer. Hier kan jy ook luister na die heerlike voetejeuk-musiek van die Klopse en jy kan jou verkyk aan die passies van die Hillcrest-trompoppies.
Terug op perron 7 neem die Koekiedoortjies (gr. R tot gr. 4) deel. Tjiff en Tjaff tree 10:30 op en die Poppekas is 11:30 op die stoep.
Van 15:00 neem die predikante van Wellington aan die Kardoeskoning-kompetisie deel. Hulle kry ’n kardoes met bestanddele en kry slegs een uur om ’n dis aanmekaar te slaan en op te dien. Het jy al vir Lettie Büchner agter die kospotte gesien, of vir ds. NJ of ds. Jan? Kom ondersteun jou kerk se leraars. Retha Rix tree op as seremoniemeester en Lise Beyers van Paarl Post is een van die beoordelaars. Die wenner word 16:00 aangekondig.
Perron 4 bied ’n Bainskloof-uitstalling aan. Hier word toekennings gemaak aan Wellingtonse ikone.
Een van Wellington se geliefde en bekende vroue, dr. Marlene le Roux, wie se bekendheid tot in die Engelse koningshuis gaan draai het, sal gehuldig word.
Gaireyah Fredericks word ook vereer. Daar is ook drie nominasies vir die Winnie Rust-toekenning, naamlik Anneline Arries, voorheen van Weltevrede Sekondêr, Florencia Michaels, tans ’n leerder aan Bergrivier Sekondêr en Christine Klaasen van Soetendal Primêr.
Kom ondersteun jou ikone van 10:30. Die prysoorhandigings word gedoen deur Poole, die burgemeester van die Kaapse Wynlanddistrik, dr. Elna von Schlicht, en een van die Rust-dogters, Winnie Nel.
Van 12:15 toets Olivia le Cordeur van Wellington-museum die raadslede met haar Flinkdink-kompetisie.
Omstreeks 14:30 doen Gaireyah Fredericks voorlesings uit haar boeke. Sy skryf in “Kaaps” en bevorder hierdie afdeling van die Afrikaanse taal.
Vir meer inligting oor die fees, bel Tharina by 082 779 4001 of stuur e-pos na karltha@absamail.co.za, vir meer oor stalletjies bel JC by 082 820 2198 of stuur e-pos na jkok1@telkomsa.net.
Vir algemene navrae bel Christine by 083 231 7027 of stuur ’n e-pos na d.j.s@mweb.co.za.