Leighton Louw (20) is in 'n tref-en-trap dood op Robertson
Die gemeenskap van Robertson is in rou gedompel na die dood van ‘n belowende jong student van die dorp, Leighton Louw (20), in ‘n tref-en-trap voorval.

Die gemeenskap van Robertson rou vandeesweek ná ‘n jong man dood is in ‘n tref-en-trap ongeluk net buite die dorp.

Leighton Louw (20) is Vrydagaand (9 Mei) net na 22:30 op die toneel oorlede nadat hy voor sy ouerhuis op die plaas Goederede-boerdery buite Robertson raak gery is.

Louw, ‘n derdejaars onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit, het glo teruggekeer van ‘n afskeidspartytjie wat vir hom gehou is ná hy sy proeftydperk by die Laerskool Dagbreek voltooi het. Louw het blykbaar buite hul voertuig gestaan toe hy getref is, met sy broer, Calvin (21), wat nog in die voertuig gesit het.

‘n Soektog is onmiddellik vanstapel gestuur en die polisie het die voertuig wat vermoedelik in die voorval betrokke was, by ‘n nabygeleë venue gekry. Hulle het ‘n 40-jarige man aangekeer wat vandag (Maandag 12 Mei) in die Roberston-landdroshof op klagtes van dronkbestuur en strafbare manslag sal verskyn, het AO. Joseph Swartbooi, polisie woordvoerder bevestig.

Leighton se ma, Lizelle Regue, het vanoggend met die Standard & Breederivier Gazette gesels ten spyte hul groot hartseer.

“Leighton was ‘n baie spontane mens, ‘n jong man met baie drome. Hy wou graag by Langeberg Sekondêre Skool in Robertson werk ná hy sy graad voltooi het. Sy passie vir onderwys het juis hiér, waar ek werk en hy gematrikuleer het, begin. Hy het gesê as hy nie dadelik werk kry ná sy studies nie, sal hy graag IT wil studeer en ‘games’ ontwerp. Dis hoe hy was – vol drome,” het sy gesê.

“Ons is trotse ouers vir die lieflike seuns wat ons het. Ek het altyd vir hulle gesê ons as ouers lewe nie vir altyd nie. Van Vrydagaand af kan ek sien aan die klomp mense wat op die toneel was en hoeveel mense al by ons was wat ek nie eers ken nie, watter groot vriendekring hy gehad het. Dis hartverskeurend. Maar ek sê vir die Here dankie dat ons ons kinders goed kon groot maak en dat hulle iets vir die wêreld daarbuite daar kon beteken. Hulle was altyd bereid om mense se te help. Dis hoe ons Leighton sal onthou. Die persoon wie hy was,” sê sy ma hartseer.

Langeberg Sekondêre Skool het hul meegevoel met die gesin op hul Facebook-blad betuig. “Ons betreur die skielike heengaan van Leighton Louw, ‘n oudleerder wat sy Hemelse huis betree het. Ons onthou hom as ‘n baie respekvolle jong man met die mooiste maniere. Ons harte is baie seer.”

Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, omdat sy ouers sy liggaam eers Dinsdag (13 Mei), in Worcester kan gaan uitken. Hulle hoop dat die begrafnis komende Saterdag kan plaasvind.

Louw laat sy ouers Lizelle en Johan Regue, sy oudste broer Calvin Louw sowel as sy ander sibbe Jaydrean, Angelo, Atwill, John, Michaela en Felicity Regue agter.

You need to be Logged In to leave a comment.