Die Hoër Jongenskool Paarl (HJS) bied op 5 Augustus die Groot Boishaai Interskole Skouspel aan.

Kaartjieverkope is nou oop en is beperk tot 5 000 vir die Groot Boishaai Interskole Skouspel, wat op die Saterdag van die Interskole-hoofwedstryd op die HJS se skoolveld aangebied word. Die Interskole Skouspel spog met ’n verskeidenheid bekende kunstenaars en die konsert begin om 19:00 na afloop van die hoofwedstryd. Die hekke open reeds om 13:00 vir konsertgangers wat die wedstryde in die “Fan Park” op die groot skerm wil kyk.

Juan Boucher, Zaan Sonnekus, Jacques du Plessis en Margot gaan HJS laat ruk. ’n Groot feesterrein sal opgerig word met reuse bier- en wyntente sowel as kosstalletjies met ’n verskeidenheid lekkernye en eetgoed.

HJS is stapafstand van die Faurestraat-stadion af, wat beteken konsertgangers wat die wedstryd in die Faurestraat-stadion bywoon het nie nodig om weer parkeerplek te soek na afloop van die interskole-wedstryde nie. Mense kan hul kampstoele in hul motors kry en sommer oorstap na afloop van die eindfluitjie en skoolliedere.

Die inisiatief is gebore uit die groot behoefte om lekker saam te kuier tydens en na afloop van die wedstryd.

Kaartjies is beperk tot 5 000 en die kaartjiepryse is R200 vir volwassenes, R100 vir skoliere en gratis vir kinders onder 7. Koop by aanlyn by iTickets.

You need to be Logged In to leave a comment.