Goeie vordering is gemaak op die eerste vergadering van WAG/Stopmisdaad, Wellington se nuwe gemeenskapsorganisasie wat daarop ingestel is om aan Wellingtonners groter direkte inspraak in gemeenskapaksies en beveiliging en die sinvolle bestuur van hulle dorp te gee.
Verteenwoordigers van al die verskillende eenhede waarin Wellington ingedeel is om probleme te identifiseer en om met oplossings vorendag te kom, het saam met verteenwoordigers van die Wellington-polisie die byeenkoms bygewoon.
Onder die talle probleme wat bespreek is, is onder meer bergies wat in die middedorp plak en parke beset en hoe om die stygende voorkoms van misdaad in sekere dele van Wellington sinvol te stuit.
Die verteenwoordigers van die polisie het ’n aantal voorstelle voorgelê wat sal verseker dat die reaksietyd van die polisie op klagtes versnel kan word. Dié inligting sal deur WAG/Stopmisdaad in aan inwoners wat op hul Facebook-blad ingeteken is, deurgegee word.
Wag/Stopmisdaad prioritiseer ’n goeie werkverhouding met die SAPD en skakel ook in by relevante polisiestrukture.
Volgens Francois Theron, deel van die bestuurspan van WAG/Stopmisdaad, het die organisasie onder meer gegroei uit die voormalige buurtwagstelsel van Wellington. Wag/Stopmisdaad, ’n vrywillige organisasie is minder onderworpe aan rompslomp en kan vinniger en meer effektief die dorp se probleme aanspreek en ’n oorsigrol vertolk wat dienslewering van Drakenstein-munisipaliteit betref.
Hy het ook die mening uitgespreek dat die nuwe organisasie veel meer ruimte aan die polisie bied om sinvol en vinnig aandag te gee aan die probleme wat na hulle geneem word.
WAG/Stopmisdaad se pogings om inwoners van die dorp by die groei en ontwikkeling van die dorp te betrek, word volgens die bestuur van WAG/Stopmisdaad geïllustreer deur rommel die afgelope twee naweke langs die historiese Bainskloofpas op te tel en weg te ry.