Die groentetuin by die Noorder-Paarl Hoërskool waarby leerders betrokke is, lewer stadig maar seker ’n voedsame oes vir dié skool se kombuis en ook ’n nuwe uitkyk op die lewe wat die leerders deur tuinmaak leer.
Drie maande gelede het die skool begin met die aanplant van verskeie saailinge ter viering van Mandelamaand. Die tuin is aangelê met die hulp van die Wes-Kaapse departement van landbou en Casidra, ’n afdeling van dieselfde departement.
Die leerders wat betrokke is by die skool se omgewingsklub het saam met onderwysers en amptenare van die departement in die grond gewerk en hand bygesit. Verskeie groentes is geplant en dit sluit in spinasie, wortels, sprietuie en kool.
Juffrou Marilyn Solomons is die een wat die leerders lei tydens die hele tuinmaakproses, die instandhouding van die tuin en ook hoe dit by vakke soos lewenswetenskappe inpas. Solomons is ’n lewenswetenskap-onderwyser by die skool, en ook die departementshoof vir die vak.
“Ons het nog nie geoes nie, maar die plantjies groei mooi. Ons sal binne die volgende maand oes. Wat leerderbetrokkenheid betref, is dit nie nou meer net vir die lewenswetenskap-leerders of diegene van die omgewingsklub nie, want daar is ook ander leerders wat baie graag by die tuin betrokke wil wees. Die lewenswetenskap-leerders stel veral belang in die wetenskaplike gedeelte van die tuin. So, hul vrae oor die tuin gaan veral daaroor en hoe die wetenskap inmekaar vleg.
“Die jonger leerders kom ek agter wil meer kreatiewe goed doen. Hulle wil goed maak vir die tuin. Ek let ook op by die ouer leerders veral dat hulle baie entoesiasties oor die tuin is en dat die entoesiasme ook in die klas deurskemer en hul gedrag beïnvloed. Ons gebruik selfs nou die tuin as ’n dissiplinemaatreël en dis asof ons nou beter kan deurdring tot veral die leerders wat by die tuin betrokke is. Die leerders wat lewenswetenskappe bestudeer, pas hul kennis ook in die klas toe. Ek kan definitief in die leerders se gedrag ’n verandering sien.”
Solomons sê daar is egter hier en daar uitdagings, maar hulle is besig om ’n plan van aksie uit te werk. Aangesien daar onlangs verskeie aktiwiteite by die skool aan die gang was, en ook die eksamens, kon die leerders nie genoeg tyd deurbring om in pouses in die tuin te werk nie. Volgens Solomons het onkruid in die tuin asook besproeiing ’n uitdaging geword. ’n Nie-doserende personeellid het onlangs ingespring en met die besproeiing van die tuin begin help.
“Ons is nou besig om te kyk hoe ons dinge kan herstruktureer, maar ons uitdaging is veral op ’n Saterdag, want ons wil kyk of ons nie oor ’n naweek ook kan inkom nie. Die uitdagende vraag is of dit vir alle leerders haalbaar is. Indien dit nie is nie gaan ons kyk watter leerders kan inkom, want ons moet definitief ons hand nou meer in die tuin in kry.”
Twee graad 11-leerders, Leigh-Hagen Cornelissen en Keenan Mamani, wat ook by die tuin betrokke is, sê hulle geniet dit om hand by te sit.
“Ek help water aandra tot by die tuin en kyk dat die paadjies tussen die plantjies skoon is. Ons het die gras en onkruid uitgetrek wat in die tuin gegroei het. Om tuin te maak, sal enige jongmens goed help vir hul toekoms. Dit is ook pret om by die tuin betrokke te wees,” vertel Keenan.
Leigh-Hagen voeg by: “Ek maak die tuin skoon en help plant ook. Tuinmaak leer my goeie leiersvaardighede en hoe om gemaklik saam met mense te werk.”
Solomons sê sodra hulle oes, sal die groente in die skool se kombuis gebruik word. Op dié manier sal die skool ook spaar wanneer hulle nie groente hoef aan te koop nie.
“As daar groente oor is, sal ons dit ook uitdeel aan die leerders wat by die voedingskema betrokke is, en as daarna nog groente oor is, sal ons dit aan die doserende personeel verkoop.
“Wat ons ook graag wil doen, is om vir die leerders te leer hoe om by hul eie huis en gemeenskappe hul vaardighede te gebruik om hul eie voedsel te kweek.” . The vegetable garden at Noorder-Paarl High School, in which learners are involved, is slowly but surely producing a nutritious harvest for this school’s kitchen and also a new outlook on life that the learners learn through gardening.