Drakenstein-munisipaliteit (DM) het die groen lig gegee vir die voorgestelde vervreemding van Van der Lingen- en Patriotplein asook ‘n gedeelte van Nuwestraat in Paarl wat die weg baan vir ‘n grootskaalse herontwikkelingsprojek in die private sektor ter waarde van meer as R490 miljoen.
Die item is op die munisipaliteit se mees onlangse raadsvergadering bespreek, nadat dit in Januarie deur die burgemeesterskomitee oorweeg is.
Die eiendomme sal deur middel van ‘n direkte vervreemding aan VDLP PropCo (Edms) Bpk verkoop word vir R10 miljoen onderhewig aan ‘n uitgebreide lys voorwaardes en ‘n openbaredeelnameproses, luidens die raadsvergadering se sakelys.
Luidens die sakelys is dit ‘n moontlike katalisatorprojek wat daarop gemik is om die “langtermyn-agteruitgang van die Paarl-sakekern te stuit, veral in en rondom Lady Greystraat”.
Die betrokke eiendomme vorm tans deel van munisipale parkeerterreine wat ingevolge huurooreenkomste aan Anytime Investments No 14 (Edms) Bpk en Paarl Property Partnership (Edms) Bpk verhuur word. Hierdie huurooreenkomste sal gekanselleer word sodra die nuwe transaksie afgehandel is.
Die munisipaliteit is deur VDLP PropCo, in vennootskap met die Atterbury Property Group, via die urbanisasie- en ontwikkelingsbeheerkernkomitee genader met ‘n voorstel om Van der Lingenplein en omliggende eiendomme te herontwikkel as deel van ‘n breër herlewingsprojek in die sentrale sakekern.
Die voorgestelde ontwikkeling behels ‘n voetgangervriendelike ontwikkeling van ‘n gedeelte van Van der Lingenplein, die oprigting van ‘n nuwe gebou van ongeveer 500 m², asook die opknapping van bestaande privaatbesitte kleinhandel- en kommersiële geboue.
Parkeerplek
Hoewel nuwe ontwikkeling beplan word, het amptenare beklemtoon dat die grootste deel van die grond aan parkeerplek toegewys sal bly om aan die munisipaliteit se soneringskemavereistes te voldoen.
Na raming sal sowat 28 000 m² bestaande kleinhandel- en kommersiële ruimte opgeknap word, terwyl ‘n bykomende 3 000 m² kommersiële ruimte deur die uitbreiding van bestaande infrastruktuur ontwikkel sal word. Die betrokke eiendom wat verkoop gaan word, beslaan ongeveer 1,3 hektaar, waarvan sowat 2 200 m² Van der Lingenplein uitmaak.
Die munisipaliteit skat dat die ontwikkeling beduidende ekonomiese voordele sal inhou, insluitend ongeveer 520 direkte werksgeleenthede, 1 040 indirekte poste en ‘n verdere 1 000 geïnduseerde werksgeleenthede.
Die verslag het ook die waardasie van die eiendomme aangeraak en aangedui dat ‘n aanvanklike waardasie deur ‘n onafhanklike waardeerder die markwaarde op R24,48 miljoen bepaal het. Dié waardasie is gemeet teen operasionele parkeerfasiliteite in hoërdigtheidsgebiede, met spesifieke verwysing na die Stad Kaapstad, waar die vraag na parkeerplek hoog is.
‘n Tweede onafhanklike waardasie het egter ‘n aanbevole verkoopprys van R9,8 miljoen voorgestel. Op grond hiervan het die ontwikkelaar ‘n aanbod van R10 miljoen ingedien.
‘n Reeks voorwaardes is aan die voorgestelde verkoop gekoppel. Dit sluit onder meer die registrasie van voorkoops- en terugkeerregte ten gunste van die munisipaliteit in, wat vereis dat die koper die eiendom binne ‘n bepaalde tydperk ontwikkel en die herverkoop van onontwikkelde grond sonder munisipale toestemming verbied. Versuim om aan hierdie voorwaardes te voldoen, kan daartoe lei dat die eiendom teen die oorspronklike verkoopprys aan die munisipaliteit terug oorgedra word.
Aansoeke
Die ontwikkelaar sal verplig wees om binne ses maande van die datum van verkoop aansoeke om grondgebruikregte in te dien, alle nodige goedkeurings binne 18 maande te bekom, en goedkeuring vir siviele en bouplanne binne vier maande nadat ontwikkelingsregte toegestaan is, te verkry. Die volledige ontwikkeling moet binne 24 maande ná registrasie van oordrag voltooi word, luidens die sakelys.
Openbare parkeerplek bly ‘n kernaspek van die voorstel. Patriotplein moet vir parkeerplek gereserveer word, insluitend ‘n minimum van 30 minute se gratis openbare parkering.
Informele handelaars wat tans op die noordoostelike gedeelte van Patriotplein bedrywig is, moet in hul huidige ligging geakkommodeer word indien die raad dit vereis.
Volgens Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, sal die munisipaliteit openbare insette versoek deur middel van ‘n kennisgewing wat vandeesweek in die Paarl Post en op die munisipaliteit se webwerf gepubliseer is.
“Konstruksie kan eers begin nadat die DM beide die ontwikkelaar se grondgebruikaansoek en bouplanne oorweeg en goedgekeur het, soos vereis deur die toepaslike wetlike prosesse.”





