Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) het die groen lig gegee vir die ontwikkeling van ’n sonplaas op die Dal Josaphat-plaas, naby die Roggelandpad in die Paarl.
Dal Josaphat-plaas
Die plaas is ongeveer 8 km noord-oos van die Paarl se middestad en beslaan 232 ha met 19 geboue, wat personeelbehuising uitsluit weens die swak toestand daarvan.
Die 232 ha is onderverdelings en konsolidasies van drie afsonderlike plase naamlik Goede Rust, Non Pareille en Roggeland en is luidens die “versoek om voorstelle”-advertensie van Sahra (RFP) as ‘n graad-1- nasionale erfenisterrein gegradeer.
Volgens die advertensie word die plaas nie tans gebruik nie. Die meeste van die geboue staan leeg met die uitsondering van een residensiële huurkontrak en Sahra se satellietkantoor.
Hierdie eiendom is geprioritiseer aangesien dit ‘n hoë risiko van onwettige besetting en verdere agteruitgang van die leë geboue op die perseel het, het die dokument verder gestipuleer.
Hernubare energie
Luidens terugvoer van Sahra is die plaas, wat as landbougrond gesoneer is, geïdentifiseer as “geskik vir hernubare kragopwekking” nadat die entiteit ‘n strategiese plan ontwikkel het om na sy bates om te sien.
“Sahra, soos baie ander openbare entiteite, staar reeds geruime tyd voortdurende begrotingsbeperkings in die gesig, wat ’n behoefte geskep het om inkomste anders as staatsfinansiering te skep om finansiële volhoubaarheid te verseker.”
Sahra het in 2018 ’n “uitdrukking van belangstelling” vir die eiendom uitgereik, maar dit het nie ’n geskikte vennoot opgelewer nie.
Daarna is ’n omvattende beoordeling van Sahra se eiendomsportefeulje gedoen om terreine met die grootste kommersiële lewensvatbaarheid en potensiaal vir inkomste-skepping te identifiseer.
“Dit het ook ’n evaluering van die Dal Josafat-plaas ingesluit, wat gedefinieer word as die wettig toelaatbare, fisiek moontlike, finansieel haalbare en mees produktiewe gebruik van ’n eiendom wat, onder redelike marktoestande, die grootste waarde vir die eienaar lewer. Die Dal Josafat-eiendom is as geskik vir hernubare-energie-opwekking geïdentifiseer omdat dit aan hierdie vereistes voldoen en terselfdertyd in ’n breër maatskaplike behoefte voorsien – veral teen die agtergrond van Suid-Afrika se energiekrisis en voortdurende uitdagings met beurtkrag.”

Daarbenewens het die plaas ook negatiewe eksterne faktore ervaar, waaronder misdaad, moord, vandalisme en diefstal, en met Sahra se beperkte hulpbronne om hierdie uitdagings te bestuur, het dit toenemend noodsaaklik geword om ’n gewillige vennoot en ’n produktiewe gebruik vir die terrein te identifiseer.
Volgens Sahra bevat die projek talle voordele, wat insluit om die 19 erfenisgeboue te restoureer asook om onwettige besetting die hoof te bied – alles met die geld wat van die sonplaas ingewin word.
Blue Pot Renewal Energies
Sahra verduidelik dat die sonplaas oor ’n tydelike periode van 20 jaar sal funksioneer, in lyn met die huurkontrak met Blue Pot Renewal Energies (BPRE), wat aangestel is om die opstel en bestuur van die fasiliteit te hanteer.
“Hierdie benadering verseker dat die historiese landskap van die plaas oor die lang termyn bewaar bly, terwyl die erfenisstrukture op die terrein opgeknap, goed onderhou en beveilig word.”
Lourens Maralack, die uitvoerende hoof van BPRE, het gesê die maatskappy verstaan die “openbare belangstelling in die voorgestelde ontwikkeling, veral gegewe die nabyheid aan bestaande gemeenskappe, maar beklemtoon dat hul kommunikasie tans deur formele regulatoriese en verkrygingsprosesse beperk word”.
Volgens die maatskappy sluit die RFP-proses eers op 5 Maart en daarom kan geen projekspesifieke tegniese, kommersiële of ontwerpinligting tans gedeel word nie.
Maralack het bygevoeg dat omgewings-, erfenis- en tegniese risiko’s deur onafhanklike spesialisstudies en statutêre assesseringsprosesse hanteer word, met gepaardgaande openbare deelname.
Navae is ook aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig, wat gesê het hy beskik nie oor die nodige inligting om kommentaar te lewer nie.
LEES OOK: Gouda kry gou twééde windplaas – werkskepping word beloof
“Ons is wel bewus daarvan dat Sahra onlangs ’n advertensie vir ’n RFP gepubliseer het vir die moontlike vestiging van ’n hernubare-krag-aanleg,” volgens Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe dienste en beplanning.
Dit is tans onduidelik hoe groot die sonplaas sal wees en wanneer konstruksie sal begin en hoeveel van die elektrisiteit wat opgewek gaan word, aan die DM of Eskom verkoop gaan woord.
Gemeenskapsbetrokkenheid
Die projek sal na verwagting beduidende voordele vir omliggende gemeenskappe oor sy leeftyd inhou, het Sahra in sy terugvoering gesê.
Die projek sal tydens die oprigtingsfase sowat 600 laevaardigheidswerksgeleenthede skep, met net meer as 50 permanente poste.
Verder ondersteun die ontwikkeling die “hervestiging van plaasarbeiders na aangekoopte behuisingseenhede, met voorkeur wat aan geraakte individue vir indiensneming gegee sal word”.
“Daarbenewens sal veiligheid en toegang tot die plaas verbeter word deur infrastruktuur-opgraderings soos die teer van grondtoegangspaaie, terreinbeligting, omheining en veiligheidsmaatreëls.”


