Die GOOD-party in die Drakenstein-munisipaliteit eis ingryping deur die provinsiale regering teen wat hulle bestempel as “magsmisbruik” deur Drakenstein se uitvoerende burgemeester, wat onlangs beslis het dat geen meriete bestaan in ’n griefskrif deur ’n vroulike werknemer waarin sy die stadsbestuurder van boeliegedrag, seksuele teistering en viktimisering beskuldig nie.

Paarl Post het onlangs berig dat die vroulike werknemer in die munisipaliteit se behuisingsafdeling ’n griefdokument van 27 bladsye aan die raad voorgelê het, wat onder meer skermgrepe van beweerde gesprekke tussen haar en dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, bevat.

Daarin spreek sy haarself uit oor die beweerde uitlatings wat deur Leibbrandt teenoor veral vroue by die munisipaliteit gemaak is.

Een van die opmerkings wat hy na bewering in ’n boodskap gemaak het, gaan oor ’n ander vroulike werker se pruik.

“Hy het vir ’n geruime tyd gevra dat ons moet help om vir *** ’n nuwe pruik te kry. Hy het nie noodwendig ’n probleem met die idee van ’n pruik gehad nie, maar wou nie hê dat dit soos gras moes lyk nie,” lui die griefdokument.

Hy het verder na bewering opgemerk die enigste kwalifiserende dokument waaroor sommige munisipale amptenare beskik, is hul geboortesertifikaat.

Sy werknemer het verder beweer dat Leibbrandt dikwels suggestiewe opmerkings sou maak, wat haar by tye ongemaklik laat voel het.

Die grief is toe deur Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester, ondersoek en die uitkoms daarvan het op die raadsvergadering van 26 Julie gedien.

Volgens Korabie is die werknemer “selektief” in die voorlegging van dele van die WhatsApp-boodskappe tussen haar en Leibbrandt.

Altesaam 53 uit die 56 raadslede het toe op 26 Julie gestem dat geen redelike gronde bestaan om te beweer dat die stadsbestuurder hom wangedra het nie, en die grief is gevolglik laat vaar.

Die GOOD-party het gesê Korabie se “ondersoek” was onwettig en hulle glo dat hy sekere gedragskodes vir raadslede oortree het.

Hulle eis nou dat Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Korabie se wyse waarop hy die grief hanteer het, moet ondersoek nadat die speaker glo ’n soortgelyke versoek deur die GOOD-party van die hand gewys het.

“Soos verwag, het die speaker bevind dat daar geen redelike vermoede bestaan dat die burgemeester die gedragskode oortree het nie en het gevolglik GOOD se klag van die hand gewys.

“GOOD het ’n aantal teenstrydighede geïdentifiseer in hoe die burgemeester die klag hanteer het, en ook dat hy teen regulasies opgetree het deur ’n onwettige ondersoek van stapel te stuur.

“Die regulasies is duidelik oor die prosedures vir die hantering van klagtes teen senior bestuurders, en die burgemeester het nie die mag om sulke ondersoeke te hanteer nie; so ’n verantwoordelikheid is in die raad gesetel,” het Keagen Gertse van die GOOD-party in ’n verklaring gesê.

Volgens Gertse het speaker Koos le Roux ontken dat die burgemeester die klag ondersoek het, “ten spyte van die feit dat Korabie se amptelike reaksie aangedui het dat dit wel die geval was”.

“GOOD glo nie meer in die onafhanklikheid van interne prosesse in die DA-geleide Drakenstein nie, aangesien die politieke elite getoon het dat hulle bo die reëls en wette is wat hulle so pligsgetrou beweer om te beskerm.

“Ons versoek dus dat die LUR ondersoek instel.”

Intussen het ’n betroubare bron by die munisipaliteit aan Paarl Post onthul dat daar glo op Vrydag (27 September) se raadsvergadering ’n item sal dien oor Leibbrandt se toekoms by die munisipaliteit.

Daar is glo beslis dat sy termyn nie verleng sal word ná die munisipale verkiesing van 2026 nie. Hy sal dus in die stadsbestuurderstoel aanbly tot dan.

You need to be Logged In to leave a comment.