My ervaring van die grendeltyd verskil van die meeste ander mense in die land.
Sedert president Cyril Ramaphosa op 26 Maart ’n nasionale grendeltyd aangekondig het, het ek en my ma sedertdien nie veel buite in die natuur gedoen nie. Ons was egter baie bevoorreg om ’n paar dinge binne in ons huis in Ashton in die Wes-Kaap te doen.
In hierdie grendeltyd kon ons nie fisiek oefen nie, maar ons het geestelik geoefen. Ek het myself gedwing om aanlyn met skool aan te gaan sodat ek ’n roetine handhaaf asof ek werklik by die skool is. Ek het ’n paar aanlyn kursusse gedoen oor kosfotografie, toneelspel, sang en ook hoe om kaas te maak. Ek het ook oudisies gedoen om deel te wees van die International Arts and Talent Showcase en ek het ’n paar dae gelede ’n oproep gekry dat my oudisie suksesvol was vir sang en toneelspel en ek sal op 25 en 26 September in Krugersdorp by Silverstar Casino optree voor internasionale kunstenaars soos Nate Butler en Blaze Johnson wat aan The Voice deelgeneem het. Ek het verder deel geword van ’n internasionale talentagentskap, 33 and Me Talent Agency, wat in Johannesburg is. Tussendeur alles het ek my huiswerk gedoen. Ek het selfs ons onderwysers se lesse opgeneem om die kinders in die omliggende omgewing te help. Ek moet sê dat hierdie tydperk ’n buitengewone ervaring vir ons almal is, maar dit hoef nie noodwendig ’n negatiewe een te wees nie. • Bernard Leicher is ’n gr.9-leerder aan die Hoër Jongenskool Paarl.