Skole wat dwarsoor die land sukkel om kop bo water te hou, is ’n werklikheid.
Dieselfde geld universiteite waar studente jaarliks sukkel om hul studiegeld te betaal en gevolglik opskop.
Die aankondiging vir gratis tersiêre onderwys vir alle eerstejaars van 2018 af is egter ’n mite waarin net een mens, Jacob Zuma, glo.
Ondanks bevindings van die Heher-kommissie dat gratis onderwys prakties onmoontlik en nie ekonomies volhoubaar is nie, word Zuma se onsigbare plan volmondig ondersteun deur handpoppe soos minister Malusi Gigaba wat die land se geldtas moet bestuur. Zuma se plan sal die nasionale tesourie sowat R40 miljard per jaar kos. Logika leer my dat ons gewone landsburgers se reeds hoë belasting bloot verhoog sal word om Zuma se mite te laat leef.
Universiteite beleef reeds groot finansiële druk. Selfs skoolhoofde sukkel om noodsaaklike uitgawes te dek weens al minder toewysings van die onderwysdepartement. Dit ten spyte daarvan dat onderwys jaarliks die grootste hap uit die begroting neem. Zuma se soveelste onduidelike plan kan dus gedefinieer word as #Education-Must-Fall, want gratis tersiêre onderwys gaan inderdaad ’n nadelige uitwerking op die gehalte van die onderrig en studente se kwalifikasies by die gradeplegtigheid hê. Hierdie swak opgeleide studente moet dan in die arbeidsmark opgeneem word en produktief tot die ekonomie bydra. Hoe klop die ANC se somme?
Die ongekende skade weens die uitkomsgebaseerde onderwysmodel soos destyds smaakvol deur die destydse minister van onderwys, Kadar Asmal, verkondig is, word dus deur Zuma verder gevoer om leerders met reeds swak taal- en wiskundevaardighede tot algehele selfvernietiging te lei. Die verlaging van onderwysstandaarde en fiktiewe punte soos jaarliks opwaarts aangepas met die nasien van matriekvraestelle is reeds bewyse van Asmal se idilliese plan om onderwys in pas met dié van met eerstewêreldlande te bring. Hoe verkeerd was hy nie?
In eerstewêreldlande werk gratis onderwys met goed opgeleide onderwysers en selfs gratis hoëgehalte mediese sorg in hospitale met dokters. In SA egter waar leerders steeds onder ’n koelteboom onderrig word en ongekwalifiseerde onderwysers kernvakke soos wiskunde, wetenskap en taal aanbied, sal Zuma se duidelike plan dalk ná die dood van die ANC geleidelike gestalte vind.
Zuma het self inderdaad nie veel van ’n skoolagtergrond om van te praat nie. Geen wonder die land beweeg in ’n rigting van verval weens die president se eie opvoeding en visie vir Suid-Afrika nie.
Gehalte-onderwys met goed opgeleide onderwysers voor die sluiting van al die onderwyskolleges in die laat 90’s wat leerders gelewer het wat kon lees en wiskunde doen, was die basis van ’n groeiende en gesonde ekonomie voor ’94.
Zuma se mite dat gratis tersiêre onderwys ekonomies volhoubaar is, was tot dusver sy swakste skuif nóg vir ekonomiese groei en volhoubare onderwys vir ’n vuisvoos SA. Maar soos die wyse Salomo sê: “In ’n dwaas se oë is sy weg die regte weg.”
* Edward Smit is ’n oudonderwyser en vryskutjoernalis en woon in Wellington.