Verskeie grafte wat uit die 1970’s dateer, is erg gevandaliseer.Foto’s: Rasaad Adams


Wellingtonners wie se geliefdes in een van die dorp se oudste begraafplase in Bloekomlaan begrawe is, het ’n dringende beroep op die Drakenstein-munisipaliteit gedoen om hier in te gryp te midde van grafte wat gevandaliseer word en die algemene agteruitgang van die begraafplaas.

’n Voortslepende rioollekkasie by die begraafplaas, wat nou selfs tot in die straat loop, moet ook aandag geniet, eis die inwoners.

Paarl Post het die begraafplaas, wat volgens inwoners al baie jare lank deur die munisipaliteit afgeskeep word, Maandag (5 Februarie) besoek.

Verskeie grafte wat van so lank terug as die 1970’s dateer, is gevandaliseer.

Die begraafplaas het boonop geen omheining nie, met die gevolg dat huishoudelike rommel hier gestort word.

Willem Smith, ’n bejaarde inwoner van Bloekomlaan reg oorkant die begraafplaas, het aan Paarl Post gesê dit is “onaanvaarbaar” dat hul geliefdes in sulke omstandighede moet rus.

“My pa is ook daar begrawe. Die plan was aanvanklik dat ek naby hom begrawe word wanneer ek sterf, maar nou kan ek nie eens meer sy graf identifiseer nie.”

Smith het na gras in die begraafplaas beduie wat bykans twee meter hoog groei.

Hy sê sy pa se graf en vele ander is weens die hoë gras glad nie meer sigbaar nie.

“Ek vermoed die gras groei so hoog en vinnig weens die riool wat nou al baie lank daar lek.

“Daar was glo destyds ’n openbare toilet, maar die rioolpyp is van daai tyd af nooit behoorlik toegemaak nie.”

Die riool het Maandag uit die begraafplaas tot in die straat geloop.

’n Rioollekkasie aan die onderkant van die begraafplaas loop nou selfs tot in Bloekomlaan.Foto: Rasaad Adams

Volgens Smith is daar veral op warm dae ’n stank wat weens die riool in die lug hang.

Hy sê die begraafplaas het destyds ’n behoorlike omheining gehad, maar dit is intussen ook gevandaliseer en gesteel.

Paarl Post het intussen ’n skrywe van een van die plaaslike leiers bekom, waarin sy die stand van die begraafplaas met die munisipaliteit opper.

“Dit is hartseer as ek daar verbystap en nie eens my ouers se grafte kan sien nie. Kan daar asseblief drasties iets gedoen word?

“Aan die bokant lyk dit nie erg soos onder nie. My hart raak seer as ek so teen die gras vaskyk,” lui die versoek deur die plaaslike leier.

Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, het by navraag aan Paarl Post gesê die betrokke begraafplaas is in Desember opgeknap en die volgende opknapping word vir Maart vanjaar beplan.

Die munisipaliteit sal die behoefte ondersoek om die begraafplaas weer te omhein, maar dit gaan wel samewerking met die polisie, buurtwag en kerke vereis. Ons moet hierdie fasiliteite in die belang van die gemeenskap beskerm.
Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit

Hy sê die munisipaliteit het die omheining al twee keer “weens diefstal” vervang.

“Die heining word juis opgerig om vandalisering van grafte en onwettige storting te voorkom.

“Die munisipaliteit sal die behoefte ondersoek om die begraafplaas weer te omhein, maar dit gaan wel samewerking met die polisie, buurtwag en kerke vereis.

“Ons moet hierdie fasiliteite in die belang van die gemeenskap beskerm.”

Volgens Esau is die munisipaliteit nie bewus van die gerapporteerde riool- lekkasie nie en sê spanne sal uitgestuur word om dit te ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article