Gr. 8 aansoeke: Ouers aangemoedig om onmiddelik op te tree

,

Sowat 33 000 leerders wat tans in gr. 7 is, se ouers het nog nie vir hul kinders aanlyn aansoek gedoen vir gr. 8 vir die volgende skooljaar nie. David Maynier, die Wes-Kaapse […]


Sowat 33 000 leerders wat tans in gr. 7 is, se ouers het nog nie vir hul kinders aanlyn aansoek gedoen vir gr. 8 vir die volgende skooljaar nie.

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, vind die getal kommerwekkend, veral omdat die sluitingsdatum vir aansoeke volgende week is.

“Ons is veel meer as halfpad deur die betydse toelatingsvenster vir 2026 en neem kennis dat die ouers van meer as 33 000 leerders, wat tans in die Wes-Kaap in gr. 7 is, nog nie vir ‘n plek vir gr. 8 in 2026 aansoek gedoen het nie.”

Laerskole word in kennis gestel van die gr. 7-leerders wie se ouers nie aansoek gedoen het nie en gevra om die ouers te kontak om hulle te herinner.

Skole is ook gevra om verlede week ‘n nota oor aansoeke by hul einde-van-termyn-kommunikasie aan ouers te voeg.”

Maynier doen ‘n beroep op ouers wat nog nie aansoek gedoen het nie, om dit so gou as moontlik te doen voordat betydse aansoeke volgende week op 15 April sluit.

“Hulle kan dit aanlyn, by hul distrikskantoor of by een van ons aansoekbystandstasies vir persoonlike bystand doen. Ons moedig ouers aan om al die nodige ondersteunende dokumente saam te bring wanneer hulle persoonlike bystand gebruik.”

Alle dokumente wat vir die aansoeke benodig word, moet gesertifiseerde afskrifte van die amptelike weergawe wees.

Die dokumente sluit in: Die laaste amptelike skoolrapport, ID of geboortesertifikaat van die leerder, sy of haar inentings- kaart (laerskoolleerders), bewys van verblyf (munisipale rekening, huur-ooreenkoms ens.).

Die volgende identifikasiedokumente word vir buitelandse leerders benodig indien dit op hulle van toepassing is;

• ’n Paspoort of ‘n afskrif van ouer se vlugteling- of asielsoekerpermit waarop die leerder se naam moet verskyn;

• Indien die leerder buitelandse ouers het, maar in Suid-Afrika gebore is – ‘n handgeskrewe

geboortesertifikaat

(DHA 19-vorm);

• Indien die leerder nie in Suid-Afrika gebore is nie – ‘n paspoort of ‘n vlugteling- of

asielsoekerpermit wat in die leerder se naam uitgereik is.

Indien enige van die vermelde dokumente nie beskikbaar is nie, moet ouers ‘n beëdigde verklaring by die polisie aflê. Hulle moet dan in die aansoek aandui dat die verklaring die nie-beskikbare dokument/e vervang.

Besoek die Wes-Kaapse onderwysdepartement se webtuiste of https://www.westerncape.gov.za/education/service/learner-admissions voor 15 April om ‘n aanlyn aansoek vir die 2026-skooljaar te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.