Vier dapper gr. 11-swemmers van die Hoërskool Hugenote in Wellington – Shani Olivier, Neil-Willem Büchner, Paul Conradie en Mischa Grobler – gaan einde April die ysige waters van die Kaap aandurf en in ’n aflos van Robbeneiland na Bloubergstrand swem.
Die 7,5-km-aflos word vir Sondag 28 April beplan, maar sal afhang van weersomstandighede, sê die organiseerder, Michael Grobler.
Grobler was in 2000 hoofseun van die Hoërskool Hugenote en reken die swemmers se durf en daad is ’n gepaste manier om feesvieringe vir die skool se 150ste gedenkjaar in te lei en daarby ook geld vir die swemspan in te samel.
Dié vier sportiewe leerders is lid van Hugenote se swemspan en is tans hard aan die oefen vir wat voorlê.
“Ek hou daarvan om myself te druk en nuwe uitdagings aan te pak. Ek is lief vir die see en het ’n passie vir swem,” sê Shani. Sy het in Maart aan die SA Vlak 3-kampioenskap in Oos-Londen deelgeneem en die eerste plek in drie items behaal.
“Ek is ook bitter lief vir ’n uitdaging,” sê Neil-Willem, wat ook vir die skool se o.18A-hokkiespan speel. “Hierdie is ’n lekker een om saam met my vriende tot voordeel van ons skool aan te pak.”
Daarmee stem Mischa saam. Sy het vroeër vanjaar ’n silwermedalje by die Boland-tweekampbyeenkoms verwerf en beskou die uithou-swem as ’n groot avontuur om saam met haar skoolvriende aan te durf.
“Ek sien daarna uit om Hugenote op ’n onortodokse wyse te verteenwoordig,” voeg Paul by. “Dié fisieke uitdaging sal my help om innerlik sterker te word.”
Paul hou nie net tans van die skool se swemrekords nie, maar sy talente strek ook verder as die swembad. Verlede jaar het hy as “Edna” in die skool se musiekblyspel Hairspray die gehoor laat lê van die lag, en vanjaar tree hy in Westside Story op, wat Hugenote die week ná die Robbeneiland-avontuur op die planke bring.
. Die swemmers kan teen R20 per meter geborg word. Die geldinsamelingspoging word ondersteun deur die Hugenote-ondersteunersbond. Inbetalings (met Robben Island as verwysing) kan in die volgende rekening deponeer word: Nedbank, lopende rekening: 147 007 3366. Kontak Michael Grobler by 082 475 4246 vir meer inligting.
. Feesvieringe vir die 150ste gedenkjaar bereik ’n hoogtepunt in Augustus, wanneer Hugenote tuis teen die Hoërskool Swartland ’n interskole-byeenkoms hou. Daarmee word die stigting in 1874 van Hugenote Seminarium, die eerste opvoedkundige instelling in Wellington wat die naam Hugenote gedra het, gevier. Hugenote Hoërskool is vanjaar 70 jaar oud, nadat dit in 1954 met die amalgamasie van die seminarium (vir meisies) en die seunskool gestig is. Kontak Johann Enslin by 021 873 2111 vir meer inligting.