Handré Fourie (17) staan by sy motorfiets enkele minute voor die wedren op 23 September.Foto’s: Facebook/ Lydia Fourie


Die 17-jarige Handré Fourie van Wellington veg om sy lewe ná ’n onlangse grusame motorfietsongeluk waarin al twee sy polse gebreek is.

Fourie, ’n gr.11-leerder aan die Hoër Jongenskool Paarl, het op 23 September oudergewoonte op sy motorfiets geklim toe hy aan die Philadelphia Funduro-pretrit deelgeneem het.

Hy het egter binne die eerste 20 minute teen ’n berghelling afgekom waar hy hom met ’n kontoerwal misreken het en 10 m deur die lug geslinger is en op sy hande te lande gekom het.

Volgens Lydia Fourie, Handré se ma, het haar seun – buiten sy polse wat vergruis is – ook akute kompartement-sindroom ontwikkel.

Dié jongman is na die Mediclinic Durbanville gehaas waar ’n noodoperasie op hom uitgevoer is. Sy voorarms is van sy polse tot by sy elmboë oopgesny as gevolg van die erge drukking wat hy weens die akute kompartement-sindroom-diagnose ervaar het.

Hy kon nie verder in Durbanville behandel word nie, omdat die familie se mediese dekking nie diens by ’n private hospitaal dek nie. Handré is dus na die Paarl-hospitaal oorgeplaas.

Hier het nog drama op die Fourie-gesin gewag.

Volgens Handré se ma was die diens reg uit die staanspoor baie swak. Haar seun moes byna 72 uur met oopgesnyde voorarms wag om geopereer te word nadat hy met sy aankoms by die hospitaal reeds op die noodoperasielys geplaas is.

“Ons [die Fourie-gesin] het van die oggend [van 24 September] om 05:00 vir die ambulans gewag om hom [Handré] te kom haal. Die aand [van 24 September] omstreeks 18:00 sê ’n dokter [by Mediclinic Durbanville] hy is bekommerd oor hom omdat hy reeds in die teater moes wees weens die gevaar van infeksie. Ons moes later hoor die ambulans gaan nie leeg ry nie en sal eers deurkom Durbanville toe indien daar nog ’n pasiënt na Tygerberg vervoer kan word – dit terwyl hulle heeltyd gesê het hulle is op pad, maar gewis nié onderweg was nie. Durbanville [Mediclinic] het vir ons ’n private ambulans gereël en ons was reeds teen 19:00 op pad terwyl alle reëlings as noodgeval deur Mediclinic getref is [om Handré by die staatshospitaal te ontvang en te opereer].”

Dít is volgens Lydia se Facebook-plasing van 25 September.

En toe begin die lang wag voordat Handré uiteindelik geopereer is. Hy moes ook ’n veloorplanting ondergaan.

“Dit gaan oukeimet hom; ons moet nou net kyk of die vel [wat van Handré se been op sy arms oorgeplant is] gaan vat.”

Lydia het verduidelik dat septisemie steeds ’n groot gevaar is, veral omdat geel vloeistof reeds begin verskyn het, wat op infeksie kan dui.

Volgens haar word die wond van binne met “pypies” skoongemaak.

Tans is die Fourie-gesin nie seker wat volgende gaan gebeur nie, maar hulle hoop die veloorplanting is ’n sukses en die wond genees van binne.

Daarna sal Handré waarskynlik na ’n private hospitaal oorgeplaas word waar rehabilitasie sal begin.

Volgens Lydia kan Handré “niks vir homself doen nie” en besoek sy hom elke dag om te help met basiese take soos tande borsel en eet.

’n Back-a-Buddy-geldinsameling vir Handré is deur die Hoër Jongenskool Paarl begin waar enigiemand tot sy private hospitaalkostes kan bydra. Die teiken is R550 000, waarvan R254 000 reeds ingesamel is. Besoek https://www.backabuddy.co.za/lydia-fourie-5715447281512326229 om by te dra.

Volgens Sandra Maritz, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is die departement bewus van die klagtes en het ook ’n formele klagte van die Fourie-gesin ontvang, wat tans ondersoek word.

“Ons kan bevestig dat Handré Fourie wel ’n pasiënt by die Paarl-hospitaal is. Ons is bewus daarvan dat gerugte versprei word dat hy swak behandeling ontvang – dit is onwaar. Hy ontvang die beste diens moontlik en ons mediese personeel doen al die moontlike om hom gemaklik te hou. Ons het ’n klagte ontvang oor sy behandeling en sal daarop ingaan en die familie laat weet.”

You need to be Logged In to leave a comment.