Gerugte oor ’n messteekvoorval wat Saterdagaand tussen ’n lid van die gemeenskapspolisiërings­forum, ’n leerlingbestuurder en dié se ma uitgebreek het, het inwoners van Paarl-Oos behoorlik aan die gons.

Facebook-inskrywings op gemeenskapsgroepe het omtrent talle vrae laat opduik oor bewerings dat ’n vrou en haar dogter na 21:00 die aand deur die GPF-lid by ’n huis in Hillside met ’n mes gesteek is.

Die woordvoerder van Paarl-Oos se GPF, Edgar Petersen, het in ’n verklaring bevestig dat ’n saak van aanranding by die polisie aangemeld is.

“Die GPF-bestuursraad het na konsultasie besluit om die betrokke lid te skors totdat die uitslae van die ondersoek bekend is. Die Paarl-Oos- GPF laat dit oor aan die gereg om sy gang te gaan en wil die publiek verseker dat ons die geveg vir geregtigheid en regverdigheid vir ons gemeenskappe sonder kompromie sal voortsit.”

Die omstandighede wat tot die beweerde messteek gelei het, blyk onseker te wees aangesien daar chaos vermoedelik tussen vroue, ’n dogter en ’n bendelid uitgebreek het.

’n Bron beweer dat die voorval vinnig handuit geruk het, nadat die GPF-lid, wat ook lid van die omgewing se buurtwag is, ’n vroulike bestuurder genader het wat glo in ’n motorhek in die buurt vasgery het.

“Die GPF-lid het die meisie aangespreek nadat sy die botsing waargeneem het.”

Die bron verduidelik dat familielede van die bestuurder toe hulle na die toneel gehaas en die GPF-lid gekonfronteer het.

Dit is gedurende dié konfrontasie dat ’n vrou en haar dogter elk met ’n mes gesteek is, maar dit is nog nie presies duidelik wie die mesaanval begin het nie.

Die polisie is na die toneel ontbied en ’n saak van aanranding word deur die Paarl-Oos-polisie ondersoek. Die mediese verslae van die dogter en haar ma word van die hospitaal verwag. Die Paarl Post se navrae aan die polisie is nie teen tyd van publikasie beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.