Die Wellington-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Maandag (29 Januarie) sy eerste vergadering van die jaar gehou. Foto: Rasaad Adams


Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Wellington het vandeesweek tydens sy eerste vergadering vir die jaar gesê hy sal vanjaar hande vat met verskeie rolspelers, soos munisipale wetstoepassers, die polisie asook private veiligheidsorganisasies, in sy poging om weer “eienaarskap” van woonbuurte te neem.

Polisiëring en buurtveiligheid in Wellington was onlangs ’n besprekingspunt te midde van ’n reeks gewelddadige skietvoorvalle.

Hierdie voorvalle het hoofsaaklik in gebiede soos Van Wyksvlei en Weltevrede plaasgevind.

Dit is ook hier waar ’n toename in geweld onder plaaslike bendes ervaar word.

Jarque O’neal Jacobs, wat onlangs as die GPF se nuwe voorsitter verkies is, het op die vergadering gesê hy hoop vir samewerking tussen verskeie belanghebbendes.

“Ek glo ons almal is hier met ’n gemeenskaplike doel, en dis om buurte weer te beveilig. Ons kan weer eienaarskap van ons gemeenskap vat deur saam te werk,” het Jacobs gesê.

Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir gemeenskapsveiligheid, het ook Maandag (29 Januarie) se vergadering bygewoon.

Die GPF het op die vergadering ’n blik gegee van sy “volgelaaide program” vir die jaar wat voorlê.

Dit sluit ’n aantal bewusmakingsveldtogte in, wat oop sal wees vir die hele gemeenskap.

Die GPF sal ook deur die jaar bewusmakingsveldtogte rakende bendegeweld en algemene misdaad by verskeie skole in Wellington uitvoer.

“Ons wil veral met jong seuns werk en hulle op die regte pad probeer hou. Dis regtig belangrik om op daardie jong ouderdom reeds ’n positiewe ingesteldheid by kinders te kweek,” het ’n verteenwoordiger een van die private veiligheidsorganisasies gesê.

Misdaad op landelike gebiede is ook as ’n algemene probleem identifiseer.

Die GPF sê hy sal voortaan in landelike gebiede optredes saam met rolspelers uitvoer.

Kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder van die Wellington-polisiekantoor, het in sy terugvoering aan die GPF gesê die eerste kwartaal van vanjaar het ’n algemene styging in klagte soos aanranding met die doel om ernstig te beseer ervaar.

Hy sê die polisie het wel oor die feestyd suksesse gehad met die beslaglegging op onwettige vuurwapens.

Volgens Barkhuizen kan die toename in huisrooftogte vir die eerste kwartaal moontlik toegeskryf word aan misdadigers wat onlangs op parool vrygelaat is.

Die gebied het volgens hom in die eerste kwartaal wel ’n daling in misdade soos diefstal van voertuie, bedrogsake en diefstal uit winkels ervaar.

Die polisie het ook ’n aantal mense weens die besit van dwelms in die eerste kwartaal aangekeer, sê Barkhuizen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article