Dis min dat soveel groot name op een dag dieselfde verhoog deel, maar dit is presies wat Saterdag 29 Maart by die Oesfees gaan gebeur!
Emo Adams, Koos Kombuis en Valiant Swart is maar net drie van ’n rits musikante wat konsertgangers tot sonsondergang gaan laat stof opskop.
Die Solms-Deltawynlandgoed buite Franschhoek maak dan weer sy hekke en deure oop vir musiekliefhebbers en die gemeenskap ter viering van die einde van die oes én Suid-Afrika se musiektalent.
Tommy Hall, die uitvoerende hoof van die Solms-Delta Wine Company, sê die fees, wat in 2024 sy terugkeer ná sewe jaar gemaak het, bring musiek én kultuur bymekaar. “Die Oesfees is ’n wonderlike platform vir opkomende én gevestigde plaaslike kunstenaars en dit word ’n wenresep wanneer mense van heinde en ver onder die eikebome sit met die Groot Drakensteinberge in die agtergrond én heerlike Kaapse kos en wyn geniet.”
Emo Adams met sy aansteeklike energie en kenmerkende humor was ’n bekende gesig in die beginjare van die Oesfees en sal – soos Broer Loukmaan en sy band verlede jaar – uithaler-vermaak aan konsertgangers bied.
Hall sê hy is ook verheug dat Koos Kombuis in die dinamiese line-up is: “Hy is soos Emo ’n gróót naam in Suid-Afrika en ek het baie respek vir sy musikale bydraes oor soveel jare.”
Hall is net so opgewonde oor Valiant Swart se verskyning op vanjaar se Oesfeesverhoog: “Wie kan liedjies soos “Die Mystic Boer” vergeet – dis al in 1995 vrygestel, maar is steeds ikonies.”
Anton L’Amour, die gesoute kitaarspeler wat Suid-Afrikaanse topmusikante al vir langer as 30 jaar begelei, gaan die verhoog met Swart – ’n ou vriend en musikale kollega – deel. (L’Amour het sy eerste solo-album, Dwaalvuur, in 2023 vrygestel.)
Nog ’n nuwe stem by vanjaar se Oesfees is dié van Luna Paige. Hall sê dié sanger en liedjieskrywer van Stellenbosch, wat as gaskunstenaar gaan optree, is ’n groot aanwins vir die fees. “Mense sê haar musiek ‘praat’ met jou hart en siel en ons sien uit om dit eerstehands te beleef.”
Geliefde plaaslike groepe soos die Papier Family Band, Die Soetstemme en Solms-Delta se eie Optelband, begelei deur die bekende Nick Turner, asook Schalk Joubert en Carlo Fabe, gaan net nóg meer skop aan die dag se feestelikhede verskaf.
Oom Hannes Coetzee, die lepel-in-die-mond-kitaarman van die Karoo, is nog ’n bekende Oesfeesgesig wat sy terugkeer maak.
Feesgangers kan ook uitsien na die sielvolle musiek met sy sterk Afrika-aanslag van Tribal Echo se Frazer Barry. Hy tree ook soos verlede jaar as seremoniemeester op.
Die ATKV sluit opnuut aan as ’n borg, waaroor Hall verheug is.. Kaartjies kos R200 per persoon en is beskikbaar by Solmsdelta.com en Plankton.mobi. Kinders onder 12, onder die toesig van hul ouers, kry gratis toegang. Die hekke maak om 10:00 oop.