Nóg ‘n windplaas is buite Gouda in die pyplyn en bouwerk sal eersdaags op ‘n stuk grond langs die R44 begin – oorkant die huidige windplaas wat reeds daar gebou is.
Die ontwikkelaar van hierdie windplaas, asook die reeds bestaande een, is Acciona Energía, ‘n Spaanse hernubare energie-ontwikkelaar wat op wind, sonkrag en hidro-elektriese krag fokus, en verskeie projekte wêreldwyd bestuur.
Volgens Acconia se hoofkantoor is die beoogde windplaas in Gouda in ‘n “gevorderde ontwikkelingsfase,” met die maatskappy wat tans besig is om die ontwerp daarvan te finaliseer.
Hulle het aangevoer dat bouwerk in die loop van 2025 sal begin, maar kon nie ‘n presiese datum gee nie.
“Die projek sal bestaan uit twee afsonderlike windplase [met die een windplaas wat reeds opgerig en werkend is], met altesaam 33 turbines en ‘n kapasiteit van 5,9 MW elk,” sê Acconia.
‘n Gemeenskapsvergadering om hierdie projek aan te kondig, is Donderdag 6 Maart in die Gouda-gemeenskapsaal gehou.
‘n Groot getal plaaslike inwoners het die vergadering bygewoon.

‘n Groot deel van dié vergadering het gehandel oor die tydelike en permanente werksgeleenthede wat die projek sal skep.
Volgens Gavin Lakay, ‘n gemeenskapsleier in Gouda, sluit hierdie poste in boukontrakteurs vir onder meer die oprigting van die turbines en lê van die kragkabels, terwyl permanente poste die bestuur van die reeds geboude infrastruktuur op die windplaas insluit.
Tydelike poste sal ‘n tyds- duur van 18 tot 24 maande hê, terwyl sommige tydelike en permamente poste voorafgaande opleiding vereis.
Lakay, wat die vergadering bygewoon het, het verduidelik dat die Gouda-gemeenskap in kennis gestel sal word wanneer poste beskikbaar is en dat diegene wat aansoek wil doen, die Gouda-biblioteek hiervoor moet besoek.
You must be logged in to post a comment.