Die gospelsanger en liedjieskrywer Alrick Filander se musikale pen loop oor van dankbaarheid.
Volgens dié pa van twee skryf hy al die afgelope agt jaar liedjies, wat alles begin het toe hy werkloos was.
“Toe die Here my een aand ’n droom gee dat ek moet begin liedere skryf, het ek nie die droom verstaan nie, maar omdat ek ledig was, het ek begin om die pen op te tel. Ek het nie geweet hoe ek gaan begin om ’n lied te skryf of waar die inspirasie vandaan sal kom nie,” vertel Filander.
“Die inspirasie het net natuurlik gekom soos ek ry, Bybel lees, TV kyk en deur my emosies gaan. Hierdie liedere kom uit ’n diep en ’n baie mooi plek uit die Bybel en my emosies. Dit is almal geestelike liedere; al die liedere het ’n betekenis. Elke lied het ’n Bybelteks by, en dit is waar my inspirasie vandaan kom. My liedere gaan baie oor ‘dankie’. Daar is so baie om voor dankbaar te wees.”
Filander is in die Paarl gebore en het in Hibuscusstraat in Lantana grootgeword.
“Ek het in ’n gelowige huis grootgeraak waar mense die Here gedien het. Op ’n Vrydag moes ek jeug toe gaan en op ’n Sondag moes ek kerk toe gaan. Ek sing al van negejarige ouderdom af.
“Ek het eers begin om ’n instrument (tromme) by sangaande te speel, waar sanggroepe optree het. Ons moes eers Vrydagaande by die jeug begin sing. My jeugleier het onmiddellik opgelet dat ek mooi kan sing. Daarna het sy my gereeld gebruik om voor te sing as ons moet optree of in die kerk moes sing. Daarna het my liefde vir sang begin.”
Filander het sy eerste liedjie, “Dankie”, verlede jaar November op sy platforms bekendgestel. Dit is gevolg deur die liedjie “Dankie Here” in Desember en “Glory” vanjaar in Januarie.
Die platforms waar sy liedjies gehoor kan word, is Spotify, YouTube, Deezer, TikTok, Instagram en Facebook. Dit is onder sy naam, of Minister Alrick Filander.
Die agtergrondsangers wat deel is van die liedjies, is Deulin Wood, Mornè Goedeman. Deonechia Kilowan en Romano Spires.
Filander is baie dankbaar vir sy ouers, Christine en Thomas Filander, vir hul jarelange ondersteuning, asook sy vrou, Samony, wat hom elke dag motiveer.
Die egpaar het twee kinders – ’n seuntjie, CJ, asook ’n dogtertjie, C-Nay.
“My vrou motiveer my baie. Wanneer ek sommige dae so mismoedig voel, sal sy my altyd laat beter voel deur my net te motiveer en te bemoedig wanneer ek dit nodig het. Ons almal is mos maar mens; soms gaan ’n mens deur ’n moeilike tyd, dan het jy net iemand nodig om jou te motiveer en weer goed te laat voel.
“Sy doen al my projekte. Sy kry al die nodige resources. Sy glo daaraan as jy ’n gawe het, moet jy dit ten volle gebruik en nooit moed verloor nie, al kom wat op jou pad. Leef jou gawe uit, want dis jou gawe wat die Here aan jou gegee het.”
Buiten sy musiekloopbaan is Filander ook ’n sakeman.
“Ek het my eie sakeonderneming, (Alrick Skips Hire) waar ek waste wegry vir kliënte in skip bins.”
Hy sien daarna uit om volgende jaar ’n album op sy digitale platforms vry te stel, maar vir eers is hy weer hard besig om lirieke neer te pen.
Filander sê hy wil ander wat ook ’n gawe het om liedjies te skryf, bemoedig om hul gawe te gebruik.
“Die inspirasie sal vanself kom. Lees baie jou Bybel en bid elke dag. Laat niemand jou gawe van jou weerhou nie. Dis nie die mens wat daardie gawe aan jou gegee het nie, maar Onse Vader wat in die hemel is.”


