Die Goodnow-saal in Kollegestraat in Wellington behoort sedert 2005 aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Foto: Jana Scheepers

Ná nege jaar van stilte word Wellington se geliefde Goodnow-saal, wat aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) behoort, Saterdag (11 Oktober) weer met musiek gevul – die eerste keer sedert ‘n verwoestende brand dit in 2016 tydens die #FeesMustFall-optogte in puin gelê het.

Die historiese saal, wat nou volledig gerestoureer is, open sy deure met die uitvoering van Braam du Toit se O Fire of the Spirit – ‘n konsertstuk wat oorspronklik vir hierdie lokaal geskryf is, maar nooit sy beplande première hier gehad het nie.

Konsert van transformasie

Volgens Du Toit, ‘n bekende komponis van Swellendam, het hy die konsertstuk in 2016 vir ‘n opvoering in die Goodnow-saal klaar geskryf – oorspronklik vir ‘n houtblaaskwintent – toe hy die nuus ontvang het dat die saal afgebrand het en die vertoning nie meer sou voortgaan nie.

Sandra Prinsloo lei gehore deur eeue met poëtiese interludes, terwyl die mezzosoprane Lusibalwethu Sesanti, Nonhlanhla Yende en Lente Louw nuwe stem aan die restoureerde Goodnow-saal gee. Die akKOORd-vrouekoor, gelei deur Sunell Jacobs, voltooi die musikale reis van transformasie. Illustrasie: Verskaf

Vir amper ‘n dekade het hy vasgeklou aan hierdie musiek, totdat die saal gerestoureer is, waarna O Fire of the Spirit vir ander instrumente verwerk en bekendgestel is. Die eerste vertoning is in Du Toit se tuisdorp opgevoer, maar kom komende Saterdag na die Boland waar dit om 12:00 in die Goodnow-saal opgevoer sal word en ook om 18:00 in Stellenbosch as deel van die Woordfees.

Volgens Du Toit het die werk vir die vertoning in die lente van 2016 “na hom toe gekom” en hom “volkome oorweldig”.

“Die piet-my-vrou het daardie oggend in Swellendam uit verskillende rigtings geroep. Skielik kon ek voel hoe selfs die kleinste vibrasie met die kosmiese polsslag verbind. Toe het die sluise oopgegaan. ‘My Blessing’ het in een ekstatiese oomblik volledig verskyn – melodie, harmonieë, ‘n goddelike stem in ‘n smaraglandskap, met vyf stemme wat dit omring.”

Weke later het Du Toit die groen landskap as ‘n beeld van vernuwing ná die vloed en Noag se ark herken. Hy het nog die laaste note vir die Goodnow-saal se première neergepen toe die nuus op 26 Oktober 2016 kom – die saal het afgebrand.

Eers later sou hy ontdek dat die Goodnow-saal ‘n merkwaardige geskiedenis het – gebou in 1886 uit Amerikaanse hout wat uit die Olga R se skeepswrak by Mouille Point (1885) gered is.

“Soos fynbos wat ná ‘n veldbrand in nuwe glorie ontluik, weerspieël hierdie musiek ons merkwaardige vermoë om uit die as op te staan – om uit verwoesting skoonheid te skep, en deur teëspoed harmonie te vind. Elke komposisie vertel ‘n verhaal van transformasie en transendensie van die loutering wat deur beproewing kom.”

Du Toit se “My Blessing”, wat tydens vertoning opgevoer gaan word, vertel die Noag-verhaal – ‘n metafoor van vernuwing ná katastrofe; van ‘n wêreld waar teenoor- gesteldes versoen word en vernietiging plek maak vir hoop.

Sandra Prinsloo lei gehore deur nege eeue met poëtiese interludes, terwyl die drie mezzosoprane – Lusibalwethu Sesanti, Nonhlanhla Yende en Lente Louw – nuwe stem aan hierdie herwonne lokaal gee.

Die strykkwintet, met Nicholas Bruiners en Kaitlin Visser-Downie (viole), Petrus Coetzee (altviool), Ashlin Grobbelaar (tjello) en Siyolise Nyondo (kontrabas), bou die klankfondament saam met José Dias op klavier. Die vroue van die akKOORd-koor, onder leiding van Sunell Jacobs, voltooi hierdie reis van transformasie. Buiten hierdie instrumente is ‘n orrel ook te hoor, sowel as dreunklanke en klokkies. Du Toit beskryf die opvoering as klassieke musiek, maar met ‘n kontemporêre aanslag.

Saal propvol geskiedenis

Volgnes dr. Adrienne van As, ‘n geskiedenisdosent aan die KSUT, is die Goodnow-saal in Oktober 1886 ingewy nadat die hoeksteen op 29 Oktober 1885 gelê is – alles as deel van ‘n groot uitbreiding van die Hugenote Seminarie vir meisies. Die seminarie is in 1874 onder leiding van Andrew Murray Jr. gestig.

Die Goodnow-saal is gebou weens die groeiende aantal leerders aan die seminarie en is na Edward Augustus Goodnow van Worcester, Massachusetts (wat £4 000 vir die saal se bou geskenk het) vernoem.

Die Goodnow-saal voordat die orrel na die gallery geskuif is. Foto: Verskaf

Van As het ook vertel hoe die saal deels gebou is van Amerikaanse hout wat op die Olga R na die Kaap gebring is en in 1885 naby Mouille Point weens stormweer gestrand het. Groot dele van die houtvrag, wat die see van kleur verander het, is egter gered en, onder leiding van Andrew Murray, teen ‘n aansienlike besparing gekoop. Die hout is toe na Wellington vervoer en in die bou van Goodnow-saal ingewerk.

Volgens Van As is die saal sedert 2005, toe dit aan die KSUT oorhandig is, vir musiekopvoerings, troues, konserte en vergaderings gebruik.

Die Goodnow-saal nadat dit in 2016 tydens die #FeesMustFall-optogte afgebrand het. Foto: Verskaf

Volgens Hanlie Dippenaar, assistentdekaan van opvoedkunde en kampusbe- stuurder van KSUT se Wellington-kampus, val die opening van die Goodnow-saal saam met die KSUT se 20-jaar-vieringe.

• Besoek Quicket vir kaartjies teen R180 vir volwassenes, R162 vir pensioentrekkers en R100 vir studente.

You need to be Logged In to leave a comment.