Die dak van die bekende en geskiedkundige Goodnow-saal in Wellington se herstelwerk sal na verwagting in Desember voltooi word.
So het die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se woordvoerder, Lauren Kansley, vandeesweek aan Paarl Post bevestig.
Dit volg ná ’n plaaslike inwoner, Johan Rademeyer, weer antwoorde in verband met die pragtige erfenis se behoud en herstel vanaf die universiteit verlang het.
Rademeyer is van mening dat die herstelwerk van dié gebou wat tydens studente-oproer in 2016 aan die brand gesteek is, te lank sloer.
Hy gaan so ver om te sê: “Hierdie hele smerige sage wat hom op die Goodnow-saal in Wellington afspeel kan hoogstens beskryf word as ’n komedie van foute deur mense wat geen dringendheid in hul benadering toon nie, of nóg erger, kom die woorde ‘moedswillige verwaarlosing’ by my op.”
Dit nadat die bestuurder van infrastruktuur en beplanning aan KSUT in ’n brief aan Drakenstein-munisipaliteit puntsgewys redes verskaf waarom die proses tot herstel so lank duur.
In die brief word daar verduidelik dat die projek talle uitdagings ervaar het wat wissel van eksterne belanghebbendes se insette en goedkeurings van die versekering, Wes-Kaap Erfenis en interne bestuursprosesse.
Dit behels langdurige prosesse om ’n tweede kontrakteur aan te stel weens ’n verhoging in tariewe onder die oorspronklike kontrakteur; gevolglike goedkeuring vanaf eksterne partye; bedanking van die projekbestuurder, gevolg deur ’n nuwe aanstelling; onderhandelings met kontrakteurs en uitstaande aankoopbestellings.
Toe ’n ooreenkoms met die tweede kontrakteur ná maande se onderhandelings bereik is, het die kontrakteur boonop geëis dat die universiteit ’n strukturele ingenieur moet aanstel om die strukturele integriteit van die gebou te beoordeel.
Ná talle konsultasies en onderhandelinge is ooreengekom dat ’n hoofagent die strukturele ingenieur sal aanstel aangesien die universiteit se prosesse om die vereiste diensverskaffer aan te stel meer as ses maande kan neem voordat dit afgehandel kan word.
Kansley verstaan Rademeyer se grief oor die stadige pas van die Goodnow-saal se herstelwerk.
“Ons voel egter dat ons span deursigtig was oor wat die uitdagings op hierdie spesifieke gronde is. Die projekspan vergader vandag (Maandag) op die terrein om die dakopening op te los wat ’n volledige stilstand in die projek veroorsaak het.
“Ons infrastruktuur-afdeling verwag dat dit voor die Desember-bouersvakansie voltooi sal word.”
Sy voeg by dat daar ook ander komponente van die projek was waaraan daar nie onmiddellike aandag gegee kon word nie. Dit is as gevolg van die blootstelling wat deur die dakopening geskep is.
“Ons verwag dat die projek teen ’n groter tempo sal voortgaan sodra die dakkwessie opgelos is. Groot vertragings in die projek is veroorsaak deur die uitgerekte proses om ’n strukturele ingenieur, wat ’n kundige is in die hantering van muursterkte en dakkwessies, aan te stel.”
.
The historic Goodnow Hall on the CPUT campus grounds in Wellington has undergone copious internal and external challenges to its restoration. This long process follows after student strikes on campus in 2016 led to the destruction of the building as a result of a fire. The building’s roof is expected to be repaired in December.