Golden Arrow sal sy busdienste tussen Paarl en Bellville in Desember beëindig. Foto: Golden Arrow/Facebook


Pendelaars verwag dat die B97-taxiroete binnekort weer oopgestel sal word vir taxi-operateurs nadat die Golden Arrow-busdienste aangekondig het dat hy sy dienste tussen Paarl en Bellville binnekort sal beëindig.

Die taxiroete tussen Bellville en Mbekweni is sedert Julie 2021 gesluit nadat ’n dodelike bakleiery uitgebreek het tussen die twee taxiverenigings Cata en Codeta. Dié twee verenigings het baklei oor eienaarskap van die B97-roete. Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, het geen keuse gehad as om die roete verlede jaar te sluit nie nadat verskeie moorde plaasgevind het as gevolg van die oor-en-weer bakleiery.

’n Arbitrasieproses is begin en omdat die twee verenigings toe nie tot ’n besluit kon kom om saam te werk op die roete nie, het Mitchell besluit om die Golden Arrow busdienste in plek te stel om pendelaars te vervoer.

Mitchell het onlangs aangekondig dat Cata en Codeta uiteindelik ’n ooreenkoms bereik het dat al twee se taxi-operateurs op die roete kan werk. Die verenigings het die amptelike ooreenkoms in die teenwoordigheid van Mitchell onderteken.

“Verskeie vredesgesprekke en moeilike besprekings het die afgelope jaar plaasgevind, en ’n ooreenkoms is onlangs bemiddel oor die deel van die omstrede roete B97. Die memorandum van ooreenkoms sit uiteen hoe die toegekende bedryfslisensies verdeel sal word en hoe die onderskeie partye op die roete sal werk.

“Ingevolge die ooreenkoms sal bedryfslisensies op ’n gelyke basis (50/50) tussen die twee verenigings verdeel word in ooreenstemming met die vraag na dienste soos aangedui in die vervoerplanne vir die gebied. Albei verenigings het hulle daartoe verbind om op te hou om nuwe lede te werf wat meer as passasiersaanvraag is en om nie toe te laat dat onwettige operateurs op roete B97 handel dryf nie.”

Golden Arrow het verlede Vrydag op sy sosiale media die nuus gebreek dat sy dienste tussen Paarl en Bellville op 23 Desember tot ’n einde sal kom. Baie mense is nie gelukkig met die besluit nie, en voel dat taxi’s onbetroubaar is. Op vrae van pendelaars oor hoekom hulle hul dienste hier beëindig, het Golden Arrow gesê: “Ons het ongelukkig slegs op versoek van die provinsiale departement van vervoer gewerk terwyl die dispuutbeslegting (tussen die twee verenigings) plaasgevind het.”

Die Wes-Kaapse departement van mobiliteit het nog geen verdere inligting verskaf oor wanneer taxi’s weer sal begin ry op die roete nie.

  • Commuters expect the B97 taxi route to be reopened to taxi operators soon after the Golden Arrow bus services announced that it will end its services between Paarl and Bellville in December.

You need to be Logged In to leave a comment.