Die aantal haweloses wat in die strate van Drakenstein ronddwaal, raak al hoe meer. Dit is nou al jare ’n geweldige sosio-ekonomiese probleem, wat nou ook sedert die koms van die Covid-19-pandemie erg geëskaleer het.

Inwoners toon hul misnoeë dikwels op sosiale media oor die toestand van die gebiede waarin hulle woon of werk weens haweloses wat op straat bly, sypaadjies bemors en grootliks tot misdaad bydra.

Inwoners wil al lankal weet wat geword het van die Drakenstein-munisipaliteit se jarelange voornemens hiermee.

Nagskuilings vir haweloses in die Paarl en Wellington is oorvol of onvoldoende.

Terwyl gesloer word om daadwerklik ’n plan te maak met die kwessie oor haweloses, vermeerder die haweloses net in ons strate.

Nou het private instansies die leiding geneem om hierdie kwellende kwessie te probeer aandurf. Hierdie inisiatief is daarop gemik om nie net die uitdagings met haweloosheid in die Paarl hok te slaan nie, maar ook om maniere te vind waarop haweloses met meer volhoubare oplossings gehelp kan word.

Ons kan nie bekostig dat ons dorpe nog verder verval nie en ons hoop die owerhede sal saamspan om ons strate skoon te kry en ’n daadwerklike strategie sal vind om haweloses te help rehabiliteer.

You need to be Logged In to leave a comment.