Go Wellington-toerisme-initiatief wil nóg voete lok

Die jongste toevoeging tot Drakenstein se toerismesektor is die Go Wellington-toerisme-inisiatief, wat op Donderdag 24 Oktober by ’n geleentheid by Cole | The Eatery in Wellington bekendgestel is.

Een van die bergreekse wat Wellington omring. Foto: Go Wellington/ Facebook


Die jongste toevoeging tot Drakenstein se toerismesektor is die Go Wellington-toerisme-inisiatief, wat op Donderdag 24 Oktober by ’n geleentheid by Cole | The Eatery in Wellington bekendgestel is.

Die geleentheid het ’n wynproe behels met meer as 12 wyne van plaaslike wynplase wat deel is van Go Wellington, terwyl die wynmakers vir die gaste vertel het hoekom dié eens vergete Wynlandse dorp vandag die moeite werd is om as ’n toeristebestemming te besoek.

Volgens Drik Vaeye, eienaar van die Dunstone-wynplaas in Wellington asook voorsitter van die Go Wellington-inisiatief, is 14 wynplase tans deel van die inisiatief, wat elkeen ’n klein fooi betaal om die inisiatief aan die gang te hou.

Hy verduidelik dat die inisiatief soveel ondernemings moontlik waarvan hul brood en botter die toerismebedryf is, wil betrek, sodat beide Go Wellington en die dorp se toerismesektor kan groei.

“Die doel van die inisiatief is om soveel mense as moontlik na Wellington te lok,” sê Vaeye.

Die Drakenstein-vallei het reeds vir etlike jare ’n sukkelende toerismesektor gehad, met min inisiatiewe in die pyplyn om die vallei te bemark – ’n taak wat hoofsaaklik op die munisipaliteit se skouers rus.

Met die doel om die toerismesektor in Wellington te laat herleef, het plaaslike eienaars van ondernemings hande gevat, waarna Go Wellington van stapel gestuur is.

In die volgende jaar beplan die Go Wellington-span om meer geleenthede vir toeriste te skep, byvoorbeeld wynproeë en ander feeste, asook om buitelandse wynmakers en sommeliers na Suid-Afrika uit te nooi.

Die beplanning is om ook in volgende jaar ’n Go Wellington-toerismekantoor in die dorp oop te maak, wat deur die Drakenstein-munisipaliteit gefinansier sal word.

Die munisipaliteit het nie veel inligting oor die nuwe inisiatief bekendgestel nie.

Volgens Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die munisipaliteit ’n “werksverhouding met Go Wellington in plek en erken die toerisme-inisiatief as ’n private plaaslike toerismevereniging”.

You need to be Logged In to leave a comment.