PAARL – Daar is geen rede vir die hof om sy borgtogaansoek teen te staan nie aangesien hy geensins ‘n bedreiging vir die gemeenskap is soos wat die staat in sy saak wil voordoen nie. Só het die regsverteenwoordiger van ‘n 55-jarige veroordeelde verkragter, wat nou weer teregstaan op aanklagte wat met die besit en vervaardiging van kinderpornografie verband hou, vandeesweek by die hof aan die media gesê.
Die borgtogaansoek word reeds sedert 29 Augustus aangehoor nadat die beskuldigde asook die ondersoekbeampte vir kruisondervraging in die getuiebank geplaas is.
Die saak is die afgelope Maandag (27 Oktober) in die Paarl-landdroshof tot 6 November uitgestel.
Dit is in hierdie stadium onduidelik wanneer die landdros in die borgtogaansoek uitspraak sal lewer.
“Daar is geen rede om hom langer binne te hou nie. Die nodige borgtogvoorwaardes kan ingestel word.
“Hierdie man het geen rede om weg te hardloop nie en is glad nie so ‘n gevaar soos wat hy in die hof deur die staat beskryf is nie,” het die beskuldigde se regsverteenwoordiger die afgelope Maandag gesê.
Die man is op 16 Augustus by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem nadat ‘n video op sosiale media gesirkuleer het waarin hy glo met ‘n 16-jarige meisie in haar skooldrag seksueel verkeer.
Sy identiteit word weerhou om die slagoffers te beskerm, maar ook omdat hy nog nie gepleit het nie.
Tot dusver in die borgtogaansoek het die staat deur die ondersoekbeampte, AO James Smith van die provinsiale polisiekantoor se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS), getuig dat die beskuldigde die video-opname van die seksdaad met opset gemaak en vir sy persoonlike gebruik gestoor het.
Die beskuldigde het self in ‘n stadium getuig dat daar twee video’s was en dat hy dit op ‘n hardeskyf gestoor het.
Sy verdediging se verweer is egter dat die 16-jarige slagoffer daarop aangedring het dat hulle die dade op die beskuldigde se foon moet afneem en dat dit ook sy was wat die selfoon vasgehou het.
Sy het glo later gevra dat die beskul- digde vir haar die video moet stuur en dis hoe dit verder op sosiale media beland het, het die verdediging in die hof betoog.
LEES: ‘Sekspes’ in hof: ‘Sy het na my toe gekom en self seksdaad afgeneem’
Paarl Post verstaan dat die staat in besit van een van die video’s is.
Die beweerde voorvalle het tussen Junie en Oktober verlede jaar op die Franschhoekpas plaasgevind.
Die beskuldigde is ‘n veroordeelde seksmisdadiger wat in 2017 aan statutêre verkragting van ‘n tienermeisie skuldig bevind is.
Hy is in daardie stadium deur die Paarl-streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê.


