Verlede week was dit presies twee jaar sedert die vierjarige Tamia Botha vermoor is en steeds sit haar familie met meer vrae as antwoorde.

Die kleuter is laas op 25 September 2022 lewend gesien toe sy voor haar woning in Daphnestraat, Paarl-Oos, gespeel het.

Talle inwoners het saam met die polisie gewerk om na klein Mia, soos wat sy by haar nabye geliefdes bekend was, te soek. Haar lewelose liggaam is ’n paar dae nadat sy verdwyn het, op die perseel van ’n skool in die gebied, waar sy in lang gras agtergelaat is, gekry.

Die Paarl-Oos-polisie het voorheen bevestig dat die kleuter sigbare wurgmerke aan haar nek gehad het toe haar lewelose liggaam ’n paar dae later in lang gras op die perseel van ’n skool in die gebied gevind is.

Die polisie het al talle mense ondervra, maar tot dusver is niemand in hegtenis geneem vir Tamia se sinlose moord nie.

Tamia se ouers, Udene Botha en Gideon Thys, het die organisasie sonder winsbejag Action Society kort ná haar dood gevra om as woordvoerder vir hulle op te tree. Paarl Post het oor die saak na die organisasie uitgereik.

“Ons sal baie graag wil sien dat Mia se saak vorder om geregtigheid vir haar te vind, maar die polisie is ongelukkig nie bereid om enige inligting met Action Society te deel nie.

“Sover ons verstaan, ??het die polisie geen verdere of nuwe inligting nie. Aangesien dit twee jaar sedert haar moord is, sal ons ons pogings verskerp en druk verhoog om antwoorde te vind.

“Ons doen ’n beroep op enigiemand met meer inligting om uit te reik na Action Society by assist@actionsociety.co.za,” sê Juanita du Preez, ’n woordvoerder van Action Society.

Navrae is ook aan die polisie gerig oor die vordering met die saak. Sers. Wesley Twigg, ’n Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, het hierop geantwoord.

“Die saak waarna u verwys, word nog ondersoek. Weens die sensitiewe aard van die ondersoek sal hierdie kantoor geen inligting bekend maak wat die ondersoek in gevaar kan stel nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.