Stephen Korabie, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester.Foto: Rasaad Adams


Stephen Korabie, wat bykans ’n maand gelede as die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester verkies is, sê hy het meer tyd nodig om op ’n nuwe burgemeesterskomitee te besluit sodat “net die beste leiers” aangewys kan word.

Conrad Poole se burgemeesterskomitee neem steeds waar nadat Poole op 28 Februarie deur ’n wantrouemosie as burgemeester verwyder is.

Korabie het op Vrydag (26 April) se raadsvergadering benadruk dat hy deur niemand gedruk óf beïnvloed sal word met die aanstelling van sy nuwe burgemeesterskomitee nie.

“Soos ek vroeër genoem het – gee my net tyd om ’n burgemeesterskomitee te verkies wat Drakenstein verdien. Hierdie munisipaliteit en sy inwoners verdien net die beste – en ek het tyd nodig om vir hulle die beste te gee.

“Ek gaan dit nie sporadies doen nie en sal ook nie deur enigiemand gedruk word in my besluit nie. Ek sal mooi daaroor gaan dink en my kandidate na hierdie huis bring wanneer die tyd reg is,” het hy op die raadsvergadering gesê.

Keagen Gertse, hoofsweep van die GOOD-party in Drakenstein, het intussen gesê “Korabie se vertraging met die aankondiging van sy burgemeesterskomitee spreek boekdele van sy vermoë om die raad te kan lei”.

“Die burgemeester is verkies om Drakenstein in ’n nuwe era in te lei – wat ’n nuwe burgemeesterskomitee insluit. Hy meen dat hy net die beste vir Drakenstein se inwoners wil hê, so daarmee impliseer hy dat dit ’n moeilike besluit is omdat die bestaande DA-koukus vrot is.

“Ek glo die burgemeester vertraag die onvermydelike om die lojaliste van die voormalige burgemeester Poole, wat steeds baie invloed in die Drakenstein-koukus het, te vervang. Ons sal seker eers tot ná die 2024-verkiesing moet wag voordat die munisipaliteit die nodige verandering in politieke leierskap sien,” het Gertse bygevoeg.

Die VF Plus het hom intussen ook teenoor die vertraging uitgespreek en sê sy standpunt in van die begin af dat Drakenstein sy aantal burgemeesterskomiteelede moet verminder.

André Fourie, ’n VF Plus-raadslid, het aan Paarl Post gesê sy party is van mening dat daar slegs een burgemeesterskomiteelid vir elk van die munisipaliteit se vyf uitvoerende departemente behoort te wees.

Hy sê die VF Plus vind dit vreemd dat Poole se burgemeesterskomitee tot vandag toe in hul posisies is.

“Die normale praktyk is dat wanneer ’n uitvoerende burgemeester, soos in die geval van Poole, op ’n gediskrediteerde wyse verwyder word, moet sy hele komitee hulself ook onttrek.

“Die blote feit dat dit nie gebeur het nie, is ’n bewys dat die drie faksies in die DA – diegene rondom Poole, diegene rondom die adjunkburgemeester en die afvalliges met die inmenging van Helen Zille – nie tot ’n vergelyk kan kom nie.

“Ons sal nou maar moet wag tot na die verkiesing.

“Intussen spoeg en spartel die owerheid in Drakenstein met ’n swak politieke leierskap om kop bo water te hou met ’n patetiese burgemeesterskomitee – met enkele uitsonderings,” het Fourie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.