’n Gesamentlike distriksoperasie is in September by die ou spoorweg-stoor in Wellington uitgevoer. Die polisie, Drakenstein-munisipaliteit se verkeerslui en sekuriteitsmaatskappye het deelgeneem.
Dit kom nadat ’n vrou van Wellington tydens Augustus by die plaaslike GPF-vergadering versoek het dat die polisie by die ou spoorwegstoor ondersoek moet instel.
Sy het gekla oor beweerde dwelmhandel en -gebruik deur ongewenste karakters wat gereeld onwettige aktiwiteite uitvoer by dié leë stoor, wat agter die treinstasie in Industrial-straat staan.
’n Proporsionele raadslid van Drakenstein-munisipaliteit, Stephan Landsberg, het op Facebook melding gemaak dat ’n operasie deur die polisie uitgevoer is met die hulp van sekuriteitsmaatskappye en Drakenstein-verkeersdepartement.
Hy het daarop gewys dat dié gebou in staatsbesit deur Prasa bestuur word.
“Daar is tekens van dwelmgebruik gevind en die polisie sal gereeld daar besoek aflê. Dankie aan die betrokke sekuriteitsmaatskappye en Drakenstein-verkeer wat altyd uithelp en die polisie se arm versterk,” lui Landsberg se inskrywing.
Die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, bevestig die polisie van die Kaapse Wynland-distrik, sekuriteitsbeamptes en verkeerslui het aan die operasie deelgeneem.
“ ’n Operasie is by die spoorwegstasie in ’n leë stoor, waar dwelms vermoedelik gebruik en verkoop word, uitgevoer, maar geen mense of dwelms is op die perseel gekry nie.”
Aangesien daar wel tekens van dwelmgebruik is, sal die Wellington-polisie dit weer opvolg met nóg ’n operasie om die besit en verkoop van dwelms te stop..
* Following complaints of alleged drug dealing and usage at an old storage unit on Prasa’s property in Industrial Street, Wellington, a collaborative operation between law enforcement agencies investigated the scene. Although signs of drug use was visible, no person or drugs were found.