Die familie van 16-jarige Chanelle Plaatjies wat vermoor is het Donderdagoggend (19 Junie) die eerste verskyning van die beskuldgdes in die moordsaak bygewoon. Foto: Rasaad Adams

Drie verdagtes het Donderdag (19 Junie) hul eerste verskyning in die Paarl-landdroshof gemaak in verband met die moord op die 16-jarige Chanelle Plaatjies.

Onder die verdagtes is Keaton Johnson wat volgens die tienermeisie se familie haar kêrel was. Die ander twee beskuldigdes is Bradley Mamani en Theodore Qatha.

Johnson, met ‘n sigbare 27 tatoeëermerk op sy voorkop, was tydens die hofverskyning al te vrolik en het die beskuldigde bank betree met ‘n glimlag, terwyl gebroke familielede van Chanelle toegekyk het.

Die saak is uitgestel tot 26 Junie wanneer die beskuldigdes om borgtog aansoek sal doen. Hulle bly tot dan in aanhouding. Chanelle se familie se wense is dat borgtog teengestaan sal word.

Chanelle, van Smartie Town in Paarl-Oos, is die laaste keer op 14 Mei lewendig deur haar familie gesien. Toe sy laat in Mei nog nie teruggekeer het huistoe en haar ma se verjaarsdagvieringe misgeloop het, het die familie geweet daar is fout. Ná verskeie grootskaalse soektogte deur die familie en die Paarl-Oos polisie is Chanelle se liggaam op 2 Junie gevind in ‘n vlak graf in ‘n bebosde gebied agter die Allandale-gevangenis.

Volgens die familie het die soektog juis in die gebied voortgegaan nadat Johnson na bewering vanuit die gevangenis laat weet het hy het vir Chanelle vermoor en dat haar familie haar moet gaan soek. Hy is ‘n paar dae voordat Chanelle se lewelose liggaam opgegrawe is op ander onverwante klagtes gearresteer.

Buite die hof het die familie gesê dat hulle die arrestasies verwelkom en indien daar nog persone by Chanelle se moord betrokke is, hulle spoedig gearresteer moet word.

Hester Plaatjies, Chanelle se ma, sê die moord op haar “babatjie-kind” laat ‘n onbeskryflike seer binne haar hart. Samuel Jacobs, Chanelle se pa, was ook teenwoordig.

“Ek kan my net imagine wat hulle als gedoen het met my kind. Hoe moes sy vir my geroep het vir hulp. Gesmeek het vir haar lewe. Hulle is ongevoelloos.”

Katrina Pietersen, ‘n tannie van Chanelle, voeg by: “Dalk het sy vir hulle gesmeek ‘los my’; dalk het sy gesê sy sal enigiets doen wat hulle van haar vra. Om vanoggend te sien hoe kom beskuldigde nommer een (Johnson) lag-lag by die hof ingestap breek ‘n mens van vooraf.”

Die familie voeg by hulle is onsettend dankbaar vir die gemeenskap wat vir hulle in die tydjie verskriklik baie ondersteun het.

“Baie dankie ook veral aan die speurders in die saak; hulle werk goed aan die saak. Ons is ook dankbaar vir die ondersteuning vanaf die PA wat ons ook kry hier by die hof,” sê Nicolene Plaatjies, Chanelle se ouer suster.

Intussen erken die familie ook dat hulle in vrees lewe omdat daar al verskeie dreigemente na hulle kant gestuur is.

“Daar was al dreigemente gestuur vanuit die tronk na die gemeenskap. Ná die eerste dreigement wat ons gekry het, is daar nog ‘n dreigement uitgestuur,” vertel Hester.

Chanelle word komende Saterdag (21 Junie) ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.