Rodney Goliath (23) is ’n bekende naam vir Bolanders – veral dié wat in Smartie Town in Paarl-Oos woon, waar hy grootgeword het.

Goliath is sinoniem met die rapper-persoonlikheid Rotas the Rapper, wat in 2020 aan KykNet se Maak My Famous deelgeneem en enkelsnitte soos “Dankie vir die pyn” en “Ek sal survive” bekendgestel het.

Deesdae neem Goliath nie nét musiek op nie, maar het hy ook ’n rol in Arendsvlei losgeslaan, waar hy die karakter Gio, ’n leerder, vertolk.

“Ek [Goliath] wil nie te veel weggee nie, maar ek kan sê Gio is ’n kalm ou onder druk. Ek wens soms ek het die geduld gehad wat hy het,” het Goliath in ’n persverklaring oor sy karakter gesê.

Hy het onder sy verhoognaam, Rotas the Rapper, in Maak My Famous, ’n moeilike keuse in die gesig gestaar en besluit om eerder as verder aan die werklikheidsreeks deel te neem, weg te stap met R20 000 in sy sak en sy drama-graad aan die Universiteit van Stellenbosch najaag.

Goliath het reeds sy graad verwerf en vertolk een van sy eerste televisie-rolle.

“Al wat ek weet, is dit het uitgewerk soos dit moes. Ek glo vas dat ek tot alles in staat is deur die Here my God wat my die krag gee,” sê hy in die persverklaring.

In ’n telefoongesprek met Goliath het hy aan Paarl Post vertel dat hy in Augustus die nuus gekry het dat hy vir Arendsvlei gekies is, en dat dit ’n geleentheid is vir hom om met bekendes skouer te skuur.

“Almal [my familie] is baie dankbaar en wens my net die beste toe,” was Goliath se reaksie op die vraag oor hoe sy familie oor sy nuwe rol voel.

Tans woon dié jong akteur in Stellenbosch, maar besoek gereeld sy familie in Smartie Town, waar hy onder veral die buurt se kinders baie gewild is.

“Dit gebeur baie dat die kleintjies [kinders] my kom groet,” het hy gesê.

Volgens hom sien hy uit na sy nuwe rol as Gio, maar hy sê gewis nie totsiens aan Rottas the Rapper nie – hy het op 23 Oktober nóg ’n enkelsnit, genaamd “Expose”, op sy YouTube-kanaal, wat bykans 24 000 intekenare het, vrygestel en beplan ook om binnekort ’n EP vry te stel.

Volgens Goliath is dit belangrik vir veral jongmense wat sukses wil behaal om “gefokus te bly” en nie toe te laat dat mense se opinies hulle ontmoedig nie.

“Glo in jouself en bly vasberade, want alles is moontlik.” Hy het uitgebrei en gesê jongmense moenie hulself teen struikelblokke vasstaar nie en “in die eerste plek vergeet hoekom hulle dit [hul droom] nastreef nie”.

Buiten Goliath se bekendstelling van sy enkelsnit het hy sy 23ste verjaarsdag die afgelope Maandag (23 Oktober) gevier.

You need to be Logged In to leave a comment.