Markus Muller, senter van Paarl Gimnasium, is vir albei die span se wedstryde as Speler van die Wedstryd aangewys. Eben Myburgh, streekbestuurder: landbou vir Absa in die Noord-Kaap, het die prys aan hom oorhandig.Foto:


Die Hoërskool Gimnasium het verlede week sy wenstreek in die 2024-rugbyseisoen voortgesit met uitstekende vertonings by die gesogte skoletoernooi, Wildeklawer, in Kimberley.

Aan die begin van die toernooi het Gimnasium teen EG Jansen te staan gekom en sy toernooi met ’n sege van 36-33 ingelui. Hierna speel hy maklik met 31-10 met Helpmekaar klaar.

Die Hoër Jongenskool Paarl se toernooi was wel wankelrig, met ’n nederlaag van 21-43 teen Affies, waarna hy in die doodsnikke van sy wedstryd teen Durban High School ’n sege van 15-13 kon verseker.

Die Hoër Landbouskool Boland het vasgeval teen Helpmekaar met 21-43, asook teen HS Monument met 33-38.

Tans lê Gimnasium in die derde plek op die o.19A-skolerugby-ranglys, onder Grey Kollege en Paul Roos (boaan die ranglys).

Boishaai is in die vyfde plek en die Landbouskool in die 13de plek.

. Alle oë sal die naweek op Bloemfontein gerig wees wanneer die geskiedkundige en titaniese stryd tussen Boishaai en Grey College plaasvind.

Vanuit 48 kragmetings op die rugbyveld is Grey Kollege nog die oorheersende krag met 37 oorwinnings, terwyl Boishaai nege oorwinnings behaal het, met twee gelykopuitslae.

Die wedstryd word Saterdag 11 Mei om 14:00 regstreeks op SuperSport se skolekanaal 216 uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.